Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kampnaweek eindig tragies vir Voortrekkers
Mariëtte Engelbrecht en haar dogter, Ronel. Foto: Verskaf
Nina StrydomFoto: Verskaf
Marli van der VyverFoto: Verskaf

Drie jong Voortrekkermaats en ’n heemraadslid van die Kruithoring-kommando in Pretoria is Sondagmiddag ná ’n kampnaweek in die omgewing van Belfast, Mpumalanga in ’n motorongeluk dood.

Ronel Engelbrecht, Marli van der Vyver en Nina Strydom is in die ongeluk dood. Mariëtte Engelbrecht (52), Ronel se ma, het die voertuig bestuur en is ook dood.

Al drie die meisies was 11 jaar oud en in gr. 5 aan die Laerskool Menlopark in Pretoria.

Mariëtte het in die Universiteit van Pretoria se finansiële afdeling gewerk.

“Ons harte is baie seer en dit gaan nog lank seer wees,” sê Denina Bernard, die kommandoleier.

Hulle het die plaaslewe-spesialisasienaweek, wat jaarliks deur die Belfast-kommando aangebied word, bygewoon en was die middag op pad huis toe.

Die ongeluk het op die N4 in die rigting van Pretoria gebeur.

Ons harte is baie seer en dit gaan nog lank seer wees.

Volgens Bernard het 'n moontlike meganiese fout vermoedelik veroorsaak dat Mariëtte beheer oor die motor verloor het.

Bernard het die nuus omstreeks 15:30 gehoor.

Die ongeluk het tussen Bronkhorstspruit en Pretoria naby die R568-afrit gebeur. Volgens 'n polisieverklaring het die voertuig langs die kant van die snelweg in die rigting van die aankomende verkeer beland. Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.

“Toe die brandbestryders op die toneel opdaag, het hulle afgekom op ’n Nissan-sportnutsvoertuig wat in die rigting van die aankomende verkeer tot stilstand gekom het.

“Die bestuurder was in die voertuig en die drie kinders is vermoedelik uitgeslinger toe dit omgeslaan het,” sê Mabaso. Al vier is op die toneel dood.

Mariëtte was 25 jaar ’n Voortrekker en die afgelope tien jaar by die Kruithoring-kommando betrokke. Sy was die laaste vyf jaar die Dassies (’n span) se heemraadslid.

Ronel was sedert gr. R ’n Voortrekker.

Mariëtte en Ronel word oorleef deur Dawie (eggenoot en Ronel se pa) en ouboet, Christiaan, wat in gr. 10 is.

Marli was sedert gr. 1 ’n Voortrekker en word deur haar ouers, Jaco en Lucinda, en haar sussie, Karla, oorleef.

Nina was sedert gr. 2 ’n Voortrekker en was die enigste kind van haar ouers, Jaco en Suzanne.

“Hulle was verskriklike oulike kinders,” sê Bernard.

“Ronel was ’n skaam meisie, maar sy het altyd geglimlag. Nina en Marli was net sulke spontane en entoesiastiese kinders.”

Volgens Rikus Delport, woordvoerder van UP, was Mariëtte sowat 25 jaar aan die universiteit verbonde.

Hulle was verskriklik oulike kinders.

“Ons is baie jammer om te hoor van die ongeluk en wens haar man en familie baie sterkte toe in die moeilike tyd. Hulle is in ons gedagtes en gebede,” sê hy.

Bernard sê die gesinne sien nie in dié stadium kans om kommentaar te lewer nie.

Die Laerskool Menlopark onthou

Pieter Bredenkamp, skoolhoof:

“Dit is met groot skok, ontsteltenis en hartseer dat ons verneem het van die tragiese motorongeluk waarin drie van ons geliefde sonskynkinders asook een ouer oorlede is. ’n Mens is stom, sonder woorde en dra hierdie drie gesinne en hul families, vriende en ons skoolgemeenskap op aan ons Hemelse Vader. Ons bid om krag, vertroosting en berusting in Sy liefdevolle genade en teenwoordigheid, in hierdie hartseer tyd.

Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil (2 Sameul 22:2/3). So was God ook Ronel Engelbrecht, Nina Strydom, Marli van der Vyver asook Ronel se ma, Mariëtte Engelbrecht, se rots en skuilplek, en daarin vind ons berusting. So het ons hulle geken en so het hulle geleef.

Ons dank ons Hemelse Vader vir hierdie mense, al verstaan ons nie, vir hul invloed in elkeen van ons se lewe en vir die tyd wat hulle aan ons geleen was. Hul liefde, die glimlaggies, opgewekte vrolikheid en die baie vreugde wat hulle gebring het, sal vir altyd onthou en gekoester word.

Rus in Vrede.”

Bredenkamp het by navraag gesê dat al drie die meisies aktie by die skool betrokke was.

Adele Wilken, Nina se klasonderwyseres, sê:

“Nina was die positiefste en sagste leerling. Sy was altyd reg met ’n oulike antwoord. Haar mooi glimlag gaan gemis word.”

Corné Esterhuizen, Marli en Ronel se klasonderwyser, sê:

“Marli was ’n juweel in die gr. 5's se harte, altyd vriendelik en entoesiasties en haar kunstige vaardighede het altyd haar emosies na vore gebring.

Ronel was stil en aangenaam in die klas, haar interaksie met vriende en vriendinne was wel uitspattig, vrolik en gewoonlik met rekenaarspeletjies as onderwerp.

* Boodskappe van die onderwysers verskaf deur Bernard.

Meer oor:  Motorongeluk  |  Voortrekkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.