Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kampvegter teen plaasmoorde ‘ink’ sy lyf

My lyf vertel ’n stille storie, my lyf vertel hulle storie, sê Stanley Cierenberg (48), ’n kunstenaar en kampvegter teen plaasmoorde.

Cierenberg skryf vir elke slagoffer van ’n plaasmoord ’n gedig en laat dele van dié gedigte saam met die slagoffers se name op sy lyf tatoeëer.

Dit is seer om getatoeëer te word, die seer van die tatoe laat my die seer van die mense voel, sê hy.

Stanley Cierenberg by die kranslegging vir Pieter en Eddie Hills in Hennenman. Foto: Alet van der Walt

Cierenberg van Kempton Park het in Senekal en Hennenman aan die protesaksie teen plaasmoorde deelgeneem.

Hy ontwerp self die tatoeëermerke en laat dit deur ’n kunstenaar doen.

Van die gedigte en aanhalings wat Stanley Cierenberg op sy been laat tatoeëer het. Foto: Verskaf

Vir Brendin Horner van Paul Roux het hy ’n gedig op sy been laat tatoeëer.

“Ek het my been gekies omdat Brendin nog jonk was, hy kon nog ver loop.”

Vir Eddie en Pieter Hills het hy die woord “Vaderland” in sy nek getatoeëer.

“Dit was omdat ’n seun sy pa verloor het, omdat land sinoniem met grond is en omdat mense se moedeloosheid in die woorde ‘ag, vaderland!’ uitgedruk kan word.”

My lyf is al amper vol, sê hy.

Ek het eers nie geweet hoe ek my deel kan bydra nie. Daar is ouens wat baklei en die boewe jag, my werk is om mense te vertroos.

Cierenberg het in Ficksburg grootgeword, sy Vrystaatse wortels lê diep en dit is juis hier waar plaasmoorde die afgelope tyd in die kollig is.

Hy was bykans sy lewe lank ’n fiksheidsinstrukteur maar vanjaar het die staat van inperking dié bedryf lamgelê en Cierenberg het besluit om heeltyds ’n kampvegter teen plaasmoorde te word.

“Ek het eers nie geweet hoe ek my deel kan bydra nie. Daar is ouens wat baklei en die boewe jag, my werk is om mense te vertroos.”

Die gedig wat Stanley Cierenberg vir Brendin Horner op sy been laat tatoeëer het. Foto: Verskaf

Afrikaans was op skool sy beste vak en hy skryf nog altyd graag gedigte.

Troosgedigte het sy manier geword om die geliefdes van vermoordes te troos.

“Dit is my gawe waarmee ek ook ’n bydrae kan lewer.”

Ek wou die spreekbuis wees vir slagoffers, ek is nou hulle ore en mond, sê hy.

Cierenberg skryf vir mense wat vermoor is ’n gedig, dan ry hy na die Voortrekkermonument waar hy die gedig voorlees en dit regstreeks op Facebook uitsaai.

“Mense word op kreatiewe maniere doodgemaak om ’n punt te bewys. Brendin is vermoor om ’n boodskap te stuur, dit grief my.”

“Wat het die Ungerers van Stilbaai verkeerd gedoen?”

Stanley Cierenberg tatoeëer die name van moordslagoffers, gedigte en Afrikaanse woorde op sy lyf om die slagoffers te vereer. Foto: Verskaf

Cierenberg het drie keer vir Eddie Hills van Hennenman in die hospitaal in Johannesburg besoek en vir hom gebid.

“Dit was asof my pad oopgemaak was, niemand het my gekeer nie en ek het tot in intensief by hom gestap,”

“Die derde keer het ek Antoinette daar gekry en haar getroos,” sê hy.

“As mense sê hulle is kwaad vir die Here verstaan ek dit, ek het iemand aan selfdood afgestaan, so ek verstaan iets daarvan.”

Cierenberg sê hy skryf sy gedigte ongeag of mense dit sien of nie.

Mense bel hom dikwels om hom te bedank vir die gedigte en sê dat dit vir hulle iets beteken.

“My werk is in Afrikaans, dit is die mense wat my verstaan en wie ek vertroos.”

Hy ry gereeld na saamtrekke teen plaasmoorde en het Maandag ter ere van die Hills in Hennenman ’n krans gelê.

“As die naasbestaandes my nooi woon ek die begrafnisse by, anders gaan ek na saamtrekke en lees die gedigte voor by die Voortrekkermonument.”

Die digter en kampvegter teen plaasmoorde, Stanley Cierenberg, sê sy lyf is al amper vol met tatoeëermerke van die name van moordslagoffers asook gedigte en aanhalings wat vir hom van waarde is.. Foto: Verskaf

Cierenberg sê by Senekal het hy ’n groep EFF-lede gekonfronteer wat Kill the Boer gesing het.

“Ek het aan hulle gesê, kyk hier staan ek voor julle, maak my nou dood,” sê hy.

“Ek het in ’n mengsel van Suid-Sotho en Zoeloe met hulle gepraat. Hulle het skaam gekry en met my begin gesels en gevra of ek die township jive kan doen, toe wys ek hulle.

“Ek het mooi met hulle gepraat en op die ou end het ons het hulle foto’s van my geneem,” sê hy.

Cierenberg speel ook klavier en skilder. Van sy gedigte het al pryse in kompetisies gewen.

Die eenvoud van ’n veldblom

Hennenman 2020

“Kind, ek het nou nie baie grênd blomme gebring nie. Ek het met ’n motorfiets gekom” sê ek

“Kind, maar ek het sommer ’n hele bos blomme in my hart wat ek so stilletjies by jou kruis gaan neersit”

Die wind het so effens opgesteek. Nie ’n woeste-wind nie. ’n Trooswind. Saggies deur die populierbos.

“Oompie, as ek kon, het ek sommer ’n hele bos blomme gebring, net vir julle” praat ek binnekant toe.

’n Swaeltjie kom verby gevlieg en sê: “Gaan pluk sommer ’n blommetjie daar in die veld”

“Ek pluk nie sommer blomme nie . . . hulle wil ook maar lewe, net soos ons almal” sê ek.

(’n Uittreksel uit Cierenberg se gedig oor die kranslegging in Hennenman.)

Meer oor:  Stanley Cierenberg  |  Kempton Park  |  Gedigte  |  Plaasmoorde  |  Kampvegter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.