
Nederlandse honde kan moontlik superfiks word weens ’n nuwe aandklokreël. Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash
Nederland se honde kan uitsien na vele nagtelike wandelinge. Volgens Reuters spring honde-uitleen-skemas soos paddastoele op in afwagting op ’n landwye aandklokreël.
Dis nie vreemd om ’n hond in Nederland uit te leen nie. Webtuistes soos Buurhondje en Match een leenhond lewer ’n diens aan mense wat gek is na honde maar hulle weens byvoorbeeld streng huisreëls nie mag aanhou nie.
Nederlanders wat bang is die vier mure om hulle raak net te veel as hulle saans van 21:00 tot 04:00 ingeperk word, reken egter ’n geleende hond is nommerpas om “wettig” op straat te wees.
Match een leenhond het aan RTL Nieuws gesê normaalweg hanteer hulle ’n paar navrae per week, maar dit het skielik opgeskiet na tien per dag.
Nog een van die kreatiewe oplossings om die aandklokreël te omseil is om ’n uniform van ’n afleweringsdiens te dra. Dié uniforms verkoop nou glo soos soetkoek en mense is bereid om hul hand diep in hul sak te steek vir so ’n uniform.
Die aandklokreël tree Saterdag (23 Januarie) in werking.
Dit is die eerste landwye aandklokreël sedert die Wêreldoorlog. Die vyand is dié keer die koronavirus.