Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Kan jy glo: ‘Laan’ sê my storie is op’

Die seer lê nog vlak vir Vinette Ebrahim nadat die sepie 7de Laan haar in Julie uitgeskop het.

“Alles het so vinnig gebeur, ek het eintlik nog nie tyd gehad om dit te verwerk nie. Ek is ingeroep (middel Julie) en toe is daar vir my gesê ‘daar is nie meer storielyne vir Charmaine nie’,” sê sy.

Vinette Ebrahim: “Ek was nie net in die sepie ’n moederfiguur nie, maar ook vir die jong akteurs.” Foto: Elizabeth Sejake

Hoewel Charmaine en ook haar versteurde tweelingsuster, Vivian, nog tot Oktober in die sepie op SABC2 te sien sal wees, is Ebrahim (62), wat albei karakters vertolk, klaar met die verfilming.

“Kan jy dit glo? Charmaine, die moeder van die Laan. Die wind was uit my seile. Kyk, ek kan aanvaar dat hulle my nie meer daar wil hê nie, vir baie redes. Ek was nie net in die sepie ’n moederfiguur nie, maar ook vir die jong akteurs. En as dinge verkeerd geloop het, was ek altyd die een wat my mond oopgemaak het,” erken sy.

“Maar dat daar nie meer storielyne is nie? Dit was ’n verrassing,” sê sy en skud haar kop. “Lees tussen die lyne,” voeg sy dan by.

“Ek is nog baie hartseer, maar dis nou so. Iemand het vir my ’n baie ware ding gesê – as ’n mens ’n deur in jou gesig toeklap, maak die Here vyf vensters na die hemel toe oop. Ek klou daaraan vas en ek glo dit is nou wat besig is om met my te gebeur,” sê sy met ’n glimlag.

Nietemin wil sy veral vir jong akteurs sê dis belangrik om jou kontrak goed te lees voordat jy dit teken. “Dis ’n groot probleem in ons bedryf. Daarom is dit belangrik om by ’n goeie unie soos die SA Akteursgilde (Saga) aan te sluit, sodat jy beskerm kan word teen goed soos ‘daar is nie meer storielyne vir jou nie’.”

Maar ná 19 jaar was dit dalk tyd om te groet, sê sy. “Ek het besef dat ek eintlik al die laaste vier jaar lus was vir ’n nuwe uitdaging. Ek word ook nie jonger nie en weet dat daar swaar tye wag, maar ek kan dalk oor ’n maand sê daar ís lewe ná die Laan.”

Sy is amper klaar met die draaiboek vir die filmweergawe van die eenvroutoneelstuk Invisible, wat sy drie jaar gelede geskryf en opgevoer het. Daarin het sy die rol vertolk van ’n hawelose vrou wat jare gelede in Distrik Ses gebly het. In die apartheidsjare is inwoners van dié buurt in Kaapstad se middestad gedwing om dit te verlaat.

Daar is ook die moontlikheid van ’n rol in ’n fliek volgende jaar en ander sepies wat nou toustaan. En dan het sy pas teruggekeer huis toe nadat sy die land vol gereis het as beoordelaar van teaterstukke wat opgevoer is by die Curro Skole se jeugteaterfees.

“Daar is soveel talent. Ek het skielik hierdie vuur wat in my brand en ’n begeerte om betrokke te raak. Ek was net stomgeslaan deur dit wat ek gesien het,” vertel sy opgewonde.

Maar sy sal altyd haar 7de Laan-kollegas mis. Haar Meintjies-familie . . . en veral haar jarelange kamermaat by die ateljee, Annelize van der Ryst (Matrone).

Meer oor:  Vinette Ebrahim  |  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.