Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kanadese egpaar, 2 kinders sterf in ongeluk in Vrystaat

’n Kanadese paartjie en hul twee kinders is onder die nege mense wat in ’n grusame ongeluk in die Vrystaat dood is.

Die twee voertuie het aan die brand geslaan ná die botsing op die R712 tussen Phuthaditjhaba en Harrismith. Nege mense, onder wie ’n Kanadese egpaar en hul twee kinders, is in die ongeluk dood. Foto: Twitter/Rob Beez

Die paartjie en hul twee kinders was Sondagoggend saam met ’n man van Zimbabwe in ’n Subaru-motor in die rigting van Harrismith onderweg toe ’n bakkie van ’n insleepmaatskappy teen hul voertuig gebots het.

Die ongeluk het kort voor 11:00 op die R712 tussen Phuthaditjhaba en Harrismith, sowat 8 km van Harrismith af, gebeur.

Hillary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, sê albei voertuie het aan die brand geslaan en al nege insittendes is op die toneel dood.

Daar was vier mense in die Nissan Navara-dubbelkajuit-insleepvoertuig wat aan Jabu Car Towing in Harrismith behoort.

Volgens Mophethe is van die oorledenes se identiteit, geslag en ouderdom nog nie bevestig nie.

Genl.maj. Peter Moloi, bevelvoerder van die Phuthaditjhaba-polisiëringsgebied, het Sondag op die toneel aan die SAUK gesê die Kanadese was in die Vrystaat vir ’n fietsrykompetisie wat in die omgewing plaasgevind het.

Volgens Moloi het die egpaar die Zimbabwiese burger ’n saamrygeleentheid gegee.

Die insleepvoertuig het glo ’n ander motor verbygesteek, waarna die bestuurder van die insleepvoertuig beheer verloor en teen die gesin se motor gebots het, sê Moloi.

Twee van hul vriende, Bongani Maphalala en Thokozana Ntshingila, was ook in die bakkie.

Jabulani Tshabalala, eienaar van die Jabu-insleepdiens, sê sy broer Thokozani Radebe (24) en ’n neef, Msweazi Tshabalala, was op pad om hom op die Kestell-pad te gaan help om ’n motor in te sleep toe die ongeluk gebeur het.

Twee van hul vriende, Bongani Maphalala en Thokozana Ntshingila, was ook in die bakkie.

Volgens Tshabalala het sy broer, wat die bakkie bestuur het, moontlik vir ’n ander motor uitgeswaai waarna hy na links van die pad af gery het.

Hy het die bakkie terug in die pad gebring, maar voor die aankomende verkeer beland waar die Subaru die bakkie van links getref het.

“Dit is ’n skok vir ons. Ek kan dit steeds nie glo nie. Dit voel vir my hulle leef nog,” sê hy.

Volgens hom het albei voertuie ná die botsing glo deur die lug getrek voordat dit in vlamme uitgebars het.

Die konsulêre afdeling van die hoë kommissariaat van Kanada in Suid-Afrika het by navraag hul simpatie uitgespreek met die egpaar se familie en vriende “wat in ’n tragiese ongeluk in Suid-Afrika gesterf het”.

“Konsulêre beamptes is besig om konsulêre dienste aan die familie te verskaf. Die beamptes is in kontak met die plaaslike owerhede om bykomende inligting te bekom.”

Die kommissaris sê geen verdere inligting kan bekend gemaak word nie.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Meer oor:  Jabulani Tshabalala  |  Hillary Mophethe  |  Kanada  |  Vrystaat  |  Zimbabwe  |  Motorongeluk  |  Botsing  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.