Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kanker eis Kosie Steenkamp van Groenland

Hy was ’n man met sy voete plat op die aarde, ’n wynboer duisend in wie ’n Karoohart sterk geklop het.

So het Heléne Steenkamp, weduwee van Kosie Steenkamp, haar man Dinsdag beskryf.

Kosie Steenkamp op sy 70ste verjaardag in Februarie verlede jaar.

Steenkamp (71) van die wynplaas Groenland op die Bottelary-pad sowat 16 km buite Stellenbosch, is Saterdagaand in die Louis Leipoldt-hospitaal dood.

Heléne sê haar man het ’n kort siekte gehad. Kanker is by hom gediagnoseer en hy is binne ’n maand dood.

Sy verduidelik die kanker was in die gebied tussen die galblaaspypie wat na die lewer toe lei. Steenkamp het erge pyn verduur.

Die familie moes spesiale verlof kry om by hom te gaan kuier en hulle het beurte gemaak. Heléne sê ná Saterdag se besoek was dit duidelik haar man sou nie veel langer leef nie.

“Ons was gereed vir die geveg en wou behandeling vir hom kry, maar dit was ons toe nie so beskore nie.”

Steenkamp was volgens haar baie beginselvas en ’n man van “onbeperkte integriteit”’.

Hy was bekend vir sy humorsin en volgens Helene was sy geloof vir hom baie belangrik.

“Ons het ’n wonderlike lewe gehad en omdat ons ’n sterk geloofslewe gelei het, maak dit die hartseer ook makliker,” sê sy.

Steenkamp is ’n boorling van Sutherland. Hy is in Februarie 1949 daar gebore en het sy skoolopleiding daar voltooi. Hy het toe stad- en streeksbeplanning aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer en sy meestersgraad ontvang.

In 1973 is hy en Heléne getroud en ná haar pa se afsterwe in 1974 het Steenkamp Groenland in 1975 oorgeneem.

Hulle het vier kinders – De Bruyn, Piet, Antoinette en Marié – en 12 kleinkinders.

Kosie Steenkamp op die wynplaas Groenland.

Die familie is nou betrokke by die boerdery, waar Piet hom in 2001 as wynboukundige aangesluit het. Die plaas is al vir vier generasies in die familie.

Die familie skryf by die doodskennisgewing: “Ons neem met dankbare harte afskeid van ons geliefde man, pa en oupa Kosie. Ons huldig hom vir sy liefde, wonderlike lewe en erfenis. ’n Man na God se hart, ’n wynboer duisend in wie ’n Karoohart sterk geklop het. Aan God alle eer.”

’n Begrafnisdiens word op 2 Julie gehou. Dit sal weens die staat van inperking privaat wees.

Heléne sê ’n skakel na die virtuele uitsending om 10:30 sal op sosiale media aangestuur word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.