Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kanker keer 12-jarige nie om droom na te streef

’n Jong kankerlyer van George droom daarvan om eendag ’n Suid-Afrikaanse medalje in driekamp te wen.

Leukemie is in Julie 2019 by Daniel van Zyl (12) gediagnoseer en hy moes maande lank by die Rondebosch- mediese sentrum behandeling ontvang.

Daniel van Zyl (12) Saterdag in aksie op die Suid-Afrikaanse driekamp-kampioenskapsbyeenkoms in Maselspoort.

Daniel se kanker is tans in remissie. Hy het Saterdag op die Suid-Afrikaanse driekamp-kampioenskapsbyeenkoms in Maselspoort buite Bloemfontein die sesde plek in die o.13-afdeling verwerf.

Daniel se ma, Sonelle, sê hulle was verpletter deur sy diagnose.

“Wat dit nog moeiliker gemaak het, is dat hy intensiewe behandeling van ses tot nege maande in die Kaap moes ontvang. Dit is 420 km van George, waar ons woon.”

Gelukkig kon hulle ’n woonstel naby aan die hospitaal kry terwyl hulle in die Kaap moes bly.

Vir Daniel was die eerste paar maande ná sy diagnose nogal uitdagend.

Van links is Daniel saam met sy sussie, Emma (9), en broer, Aldert (14).

“Die ergste was dat ek agt maande nie kon skool toe gaan nie, ek het al my hare verloor en ek kon nie aan sport deelneem nie,” sê hy.

“Hoewel almal baie ondersteunend was, het ek baie alleen gevoel. ’n Mens voel maar so alleen as jy siek is, want niemand weet regtig waardeur jy gaan nie.”

Die oomblik toe hy beter voel, het hy nie op hom laat wag nie en dadelik begin met aktiwiteite soos swem, fietsry en bergklim. Dit het hom weer soos homself laat voel.

Die Van Zyl-gesin groet Sondagmiddag die Vrystaat ná ’n naweek vol opwinding op die Suid-Afrikaanse driekamp-kampioenskapsbyeenkoms in Maselspoort. Van links is ma Sonelle, Emma, Daniel en pa Gerrit by De Oude Kraal buite Bloemfontein.

In November verlede jaar het Reach for a Dream ’n padfiets aan hom geskenk en so is sy liefde vir driekamp gebore.

“Driekamp is ’n moeilike sport omdat ’n mens goed moet kan swem, fietsry én hardloop. Ek wil graag nog eendag ’n Suid-Afrikaanse medalje daarvoor wen. Ek gaan aanhou probeer.”

Volgens sy ma is die kanker in remissie, maar hy moet nog tot Oktober 2022 instandhoudende chemoterapie ontvang.

Daniel sê die behandeling maak hom moedeloos omdat hy daarna ’n paar dae sleg voel en nie so goed in sport kan vaar nie.

Dit is veral Daniel se sussie, Emma (9), wat bekommerd raak oor hom, veral as hy homself met die atletiek ooreis. Daniel het ook ’n ouer broer, Aldert (14).

Volgens sy ouers het Daniel ongelooflike deursettingsvermoë en hy pak alles voluit aan, ten spyte van die lewensveranderende diagnose.

“As daar een ding is wat ons by Daniel geleer het, is dit om nooit op te gee nie, al is die omstandighede teen jou,” sê Sonelle.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.