Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kapenaar vereer vir 50 j. diens aan NSRI

Met 167 reddingsaksies en 50 jaar se aktiewe diens as vrywilliger van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is Pat van Eyssen (69) van Kaapstad steeds aan diens en gereed om in geval van nood te help.

Pat van Eyssen (69) aan die stuur van ’n reddingsboot van die NSRI. Foto: NSRI

Die Internasionale Maritieme Reddingsfederasie (IMRF) het Van Eyssen, wat al van 19-jarige ouderdom ’n lid is van die Tafelbaai-reddingstasie, ook bekend as Stasie 3, pas internasionaal vir sy jare lange toewyding vereer.

Die IMRF se prys vir lewenslange prestasie, bekend as die Vladimir Maksimov-prys, is Dinsdag aan Van Eyssen toegeken.

Hy het vroeg in sy diens by die NSRI as stuurman gekwalifiseer, en was tussen 2001 en 2010, asook weer tussen 2012 en 2016, die stasiebevelvoerder van Stasie 3, wat in die V&A Waterfront geleë is.

In Van Eyssen se termyne as bevelvoerder van Stasie 3 is 417 mense gered, 61 vaartuie is na veiligheid gesleep en ’n verdere 261 vaartuie wat in die moeilikheid beland het, is bygestaan.

Hy het deur die jare duisende vrywillige ure diens vir die NSRI verrig.

Die JetRIB-skiboot wat spesiaal vir die NSRI ontwerp en ’n internasionale prys vir die unieke ontwerp ontvang het. Foto: NSRI

In die vroeë bestaansjare van die NSRI was die reddingsboot bekend as Rescue 1 in Kaapstad gestasioneer en vele kere is noodseine van tot so ver as 90 seemyl (166 km) die see in ontvang. Dit was voor GPS-navigasie, en dié langafstand-reddings moes met noukeurige navigasie uitgevoer word.

Van Eyssen word beskou as ’n uitsonderlike stuurman wat die berugte Kaap van Storms in lewensgevaarlike omstandighede moes aandurf, sê die NSRI in ’n verklaring. Hy is ook die enigste NSRI-vrywilliger met 50 jaar aktiewe diens wat ook steeds as stuurman optree.

Die NSRI het ook ’n prys vir innovasie van die IMRF ontvang vir die ontwerp van ’n nuwe tipe reddingsboot, bekend as ’n JetRIB, wat die NSRI, Admiral Powercats en Droomers Yamaha gesamentlik ontwerp en vervaardig het.

Die NSRI was op soek na nuwe tegnologie en bote waarvan die enjinskroewe nie in die water is nie om meer omgewingsvriendelik en ook veiliger in reddingspogings vir mense in die water te wees – met dié is die gedagte gebore vir ’n reddingsboot wat tussen ’n waterponie (jet ski) en ’n groter boot is.

Meer oor:  Kapenaar  |  Dienslewering  |  Nsri  |  Vereer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.