Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Karlien vat Derick se goed oor skuld

Karlien van Jaarsveld het op haar eksman, Derick Hougaard, se meubels laat beslag lê vir skuld van byna R600 000.

Maar, blyk dit uit ’n kennisgewing van die balju van Pretoria-Oos wat Rapport onder oë gehad het, die balju kon net meubels met ’n geskatte waarde van R7 300 vind.

Karlien van Jaarsveld Foto: Deon Raath

Dit sluit “vier grys stoele”, ’n LG-wasmasjien, ’n yskas/vrieskas en ’n plasma-televisiestel in.

Ook Hougaard se wyn-yskas is daarmee heen.

Die balju se kennisgewing lui dat hy op betaling gaan aandring het by Hougaard se huis in die Willow Acres-landgoed in die gegoede buitewyke van Pretoria, maar die skuldenaar kon nie die geld betaal nie.

Kobus van Niekerk, Van Jaarsveld se prokureur, sê hulle het geen ander keuse gehad as om twee weke gelede die balju met ’n lasbrief te stuur nie.

“Ons gaan ook binne die volgende paar weke ’n aansoek indien by die hof dat Derick se kontakregte met die kinders hersien word.

“Ons gaan vra dat sy kontakregte opgeskort moet word,” sê Van Niekerk.

Derick Hougaard einde verlede jaar toe hy met Rapport gepraat het oor al sy probleme. Foto: Elizabeth Sejake

“Hy skuld Van Jaarsveld amper R600 000.

“Ons het die balju opdrag gegee om (die opgeskryfde roerende bates) te verwyder en op te veil, en ons wag dat dit gedoen word.”

Daarna gaan hulle op sy drie huise waarvan hulle weet, fokus, sê Van Niekerk.

Volgens die prokureur het Hougaard al in 2015 begin agterstallig raak met betalings aan sy kliënt.

Van Jaarsveld het eers ’n loonbeslagleggingsbevel gekry. Dit gee sy werkgewer opdrag om eers ’n bedrag van sy salaris af te trek voordat dit betaal word.

“Die probleem was egter dat Derick na bewering werkloos was, en dit is dus nooit afgedwing nie,” sê Van Niekerk.

Hougaard se laaste bekende konvensionele “werk” was as aanbieder vir SuperSport. Hy is in 2017 die trekpas gegee.

Hougaard het gesê dit was weens sy uitsprake oor transformasie in rugby, maar SuperSport het gesê hulle het bloot besluit om nie sy kontrak te hernu nie en ander mense ’n kans te gee.

Volgens Van Niekerk het sy kliënt Hougaard menige maal versoek om aan te dui wat hy kan betaal of bydra, maar hy het nie daarop gereageer nie.

Die ooreenkoms wat hy met hul egskeiding met haar aangegaan het, kom neer op minstens R22 000 per maand.

Hougaard het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Hy het egter in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot gesê hy het al twee jaar lank geen voltydse werk of noemenswaardige inkomste nie en kan lankal nie sy noodsaaklike rekeninge betaal nie.

Boonop het hy ná sy vierde operasie aan sy haksening in Desember gehoor die skade aan sy enkel is onherstelbaar.

Dit het hom al hoe meer drank en slaappille laat drink, het hy gesê. “Ek sou drink tot ek van my voete af is. Ek is nie trots daarop nie.”

Gerhard Claassen, ’n goeie vriend van die Hougaard-familie, het aan Rapport gesê hy en Derick se pa het al vir hom geld geleen om sy verpligtinge na te kom.

“Mense het geen idee waardeur die Hougaard-familie die laaste paar jaar is nie.

“Ek kan ook bevestig dat die erf in die Paarl in die mark is juis omdat hy nodig het om dit te verkoop,” sê Claassen.

Volgens Van Niekerk het Hougaard sy kinders in Desember laas gesien.

Dit was tydens die opspraakwekkende moddergooiery waar Van Jaarsveld op sosiale media mense gevra het om te help soek na haar kinders wat weg is.

Hulle is gevind by Hougaard wat in ’n kroeg naby Loftus Vers­feld gekuier het.

“Karlien sê hy bel die kinders nooit nie en ten spyte daarvan dat sy al pogings aangewend het sodat die seuns en hul pa kontak met mekaar kan hê, doen hy niks van sy kant af nie,” sê Van Niekerk.

Renier Wissing, nog ’n vriend van Derick, betwis dit.

“Ek en my familie en kinders het al ’n paar keer saam met Derick en sy kinders gekuier en hy is regtig ’n goeie pa.

“Die probleem is dat die Van Jaarsvelds uit hul pad gaan om dit vir hom moeilik te maak om sy kinders te sien,” sê Wissing.

“Hulle sal hom byvoorbeeld op kort kennisgewing bel en sê hy kan hulle nou sien, en dan kan hy nie ’n plan maak nie.”

Volgens hom sal dit Hougaard finaal breek as hy nie sy kinders kan sien nie.

Hy sê dit gaan die laaste maand baie goed met Hougaard.

’n Keerpunt was Hougaard se indiskresie in ’n Pretoriase kuierplek waar hy in ’n hotelkamer saam met ’n aanvallige blondine beland het.

Sy meisie, die sangeres Nádine, het hom daar dronk en aan die slaap gekry.

Hougaard en die blondine ontken dat daar enigiets tussen hulle gebeur het.

Die voormalige “Liefling van Loftus” spreek tans ’n berader het en nou al meer as vier weke lank nie aan enige pille of alkohol geraak het nie, sê hy.

“Hy het besef hy het ’n probleem en probeer regtig hard.

“Die ou Derick is besig om terug te kom.

“Daar is individue wat aanhou om hom te probeer breek.

“Ek wil hulle smeek om hom asseblief nou ruimte te gee. Dit help nie jy hou aan om ’n hond te skop wat lê nie.”

suzanne.venter@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.