Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Karoo wys haar spoggerige agterpaaie
Reisjoernaliste Toast Coetzer en Erns Grundling verken die agterpaaie van die Karoo in die tweede seisoen van Via se gewilde realiteitsreeks Weg! Agterpaaie.Foto: Verskaf

“Daar het goed gebeur tydens die verfilming van die reeks wat nooit weer sal gebeur nie,” sê die reisjoernalis Toast Coetzer oor die tweede seisoen van Weg! Agterpaaie wat Woensdagaand op Via die pad vat.

In seisoen twee van dié reisprogram reis Coetzer en Erns Grundling 5 000 km met die agterpaaie van die Karoo. Anders as toe hulle Namibië in die eerste seisoen verken het, was hulle die keer in hul element op paaie waaroor albei al baie vir die tydskrif Weg geskryf het.

“Ek glo nie ek gaan byvoorbeeld weer die kans kry om te ski op ’n gronddam in die Karoo nie,” sê Coetzer oor die onvergeetlike reis. “En sal ek ooit weer op ’n Klein-Karoo-grondpad met die legendariese musikant David Kramer kan staan en gesels?”

Grundling was ook baie opgewonde oor die afsprake wat hulle met die skrywer Etienne van Heerden en die Kramer gehad het.

Ander onvergeetlike oomblikke op die reis sluit vir Grundling in om ’n seekoeimasker te dra en buite Kruisrivier in die stofstrate rond te loop.

Ander onvergeetlike oomblikke op die reis sluit vir Grundling in om ’n seekoeimasker te dra en buite Kruisrivier in die stofstrate rond te loop; om aan ’n plattelandse krieketwedstryd buite Springfontein deel te neem; om saam met Antony Osler, skrywer van Stoep Zen, en sy vrou, Margie, op ’n stoep te kan sit in die Karoo; om stil te raak in die Vallei van Verlatenheid buite Graaff-Reinet tydens ’n sonsondergang; en om deur ’n kragtige teleskoop na sterre en planete te kyk buite Sutherland.

“En om oral langs ons roete wonderlike gasvryheid te ervaar en ’n magdom skaapvleis te eet,” voeg Grundling by. Hy het 5 kg in die ses weke opgetel.

Van die tonele wat kykers kan verras, is volgens Coetzer ’n plaas genaamd Springbokoog buite Van Wyksvlei.

“Op Springbokoog se koppies, waar die klipknoetse blink, is rotsgravure wat jy nie gaan gló nie,” sê hy. “Springbokoog is soos ons eie piramides, diep van die betekenis, antiek, misterieus. Dog net die kraaie weet waar dit is en die mense wat weet wat dit beteken, is lankal weg.”

Grundling was stomgeslaan deur ’n uitkykpunt oor ’n magtige canyon op die plaas Papkuilsfontein buite Nieuwoudtville met sandsteen wat hy nooit daar verwag het nie. “Dit was pure Golden Gate in die Bokveld,” sê hy.

Maar raak die twee kollegas, vriende en reisgenote nie na 10 000 km saam in ’n Hilux moeg vir mekaar nie?

“Om so lank vriende te wees en langs mekaar te sit op kantoor én dan vir weke aaneen saam in ’n bakkie te sit, is bietjie soos om in ’n verhouding te wees,” sê Coetzer. “Jy moet soms op jou tande kners, soms die radio bietjie harder draai en soms ’n vinnige draai gaan loop.”

“Toast kan soms ongeduldig raak met my, maar ek neem hom nie kwalik nie. Ek weet ek is soms ’n handvol,” sê Grundling.

“Wie kan dan nou nie lief wees vir Erns nie,” sê Coetzer. “En hy laat my elke dag lekker lag.”

Een van Coetzer en Grundling se hoogtepunte was ’n ontmoeting met David Kramer op ’n Klein-Karoo-grondpad.Foto: Verskaf

Coetzer, wat in Cradock gebore is, sê dat dit hom lank geneem het om te besef dat die Karoo vir ander mense ook bekoring inhou.

“Vir die deursnee-motoris wat deurskiet op die N1 lyk die Karoo vaal en sonder ooglopende attraksie. Maar vir die toeris wat tyd het, het die Karoo eindelose vermaak. Vermaak is eintlik die verkeerde woord: Die Karoo bied eerder toevlug.

“Probeer na elke liewe ding kyk, kraaie is so belangrik soos kerktorings, skilpaaie soos museums,” is Coetzer se raad om die agterpaaie van die Karoo te verken. “Moenie elke liewe blyplek bespreek op jou toer nie. As jy kan, los jou tuiskomdatum oop.”

* Weg! Agterpaaie: Karoo begin Woensdag 15 Maart om 20:00 op Via (DStv-kanaal 147).

Meer oor:  Via  |  Erns Grundling  |  David Kramer  |  Toast Coetzer  |  Sutherland  |  Karoo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.