Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Katlego Maboe in arres ná klag

Die voormalige gesig van Outsurance Katlego Maboe is in hegtenis geneem as deel van die voortslepende en openbare twis met sy eksmeisie.

Katlego Maboe en Monique Muller. Foto: Instagram

Die polisie het aan Rapport bevestig Maboe is kort ná Nuwejaarsdag in hegtenis geneem en het op 6 Januarie in die hof verskyn vir ’n saak wat aanhangig gemaak is deur sy eksmeisie Monique Muller.

Die polisie wou weens die aard van die klag nie daaroor uitwei nie.

Maboe se nuwe woordvoerder, Lerato Male­swena, het by navraag gesê die klag “is vals en ’n poging deur sy gewese lewensmaat om hom te teister en te viktimiseer en om hom só emosionele, reputasie- en ekonomiese skade te berokken.

“Die saak is voor die landdroshof en derhalwe sub judice.”

‘Poging om hom te teister.’

Van die bewerings sluit in dat Maboe Muller uit ’n woonstel gesit het en nie die volle huur betaal nie.

Maboe moes ook in November in die hof verskyn op afsonderlike aanklagte dat hy glo bepalings van ’n beskermingsbevel van Muller oortree het. Hy ontken dit ook en die saak duur voort.

Dié is ’n nuwe hoofstuk in die sage wat in Oktober verlede jaar begin het toe ’n emosionele Maboe in ’n video wat op sosiale media versprei is, gebieg het oor sy ontrouheid terwyl Muller swanger was met hul kind.

Maboe het ná die verskyning van die video ’n verklaring uitgereik oor sy berou. Hoewel hy alle bewerings ontken het dat hy ooit vir Muller mishandel het, het Outsurance alle bande met Maboe verbreek. Hy was die gesig van dié maatskappy se advertensieveldtogte, maar alle advertensies is geredigeer om sy gesig en dialoog uit te sny.

Ellen Louis, Katlego Maboe se prokureur. Foto: Instagram

Die SABC3-program Expresso, waarvan hy ’n aanbieder was, het hom ook van die lug gehaal.

In nóg ’n nuwe drama is Maboe se prokureur, Ellen Louis, by die Regspraktykraad verkla oor “kwetsende” boodskappe wat sy vir Muller se familie gestuur het.

“Die sirkus moet tot ’n end kom,” sê Louis onder meer in boodskappe wat Rapport gesien het.

’n Familielid van Muller beweer Louis “viktimiseer” hulle.

Skermgrepe van die gesprekke is aan die Regspraktykraad verskaf.

In ’n teksboodskap aan ’n oom van Muller sê die prokureur: “Jy is so laeklas, is jy haar pa of suikerpappie.”

Die oom skryf dan vir Louis sy is “so ’n irriterende poe****”, waarop die prokureur antwoord: “Jy moet nooit ’n wit vroulike prokureur onderskat nie.”

Die oom antwoord dan: “Jy het so ’n jammerlike bestaan. Siestog, ek voel vir jou.”

Die prokureur antwoord: “Siestog, ek voel meer vir jou. Met puisies en al.”

Sthembiso Mnisi, ’n woordvoerder van die Regspraktykraad, het bevestig hulle het ’n klagte teen Louis ontvang en die Wes-Kaapse tak ondersoek dit.

“Ons wag tans op die reaksie van me. Louis teen die bewerings teen haar.”

Louis het aan Rapport gesê sy gaan nie haar kliënt se saak benadeel deur kommentaar te lewer nie aangesien albei partye deur die hof gewaarsku is om nie met die media te praat nie.

“Ons sal kommentaar gee sodra die saak afgehandel is.”

Muller het by navraag gesê sy mag op regsadvies nie met die media praat nie.

Meer oor:  Monique Muller  |  Katlego Maboe  |  Outsurance
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.