Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kempton-meisie (11) doen 300 somme in 8 minute

Carika Kruger (11) kan soveel as 300 somme binne agt minute uitwerk – sonder ’n sakrekenaar of telbord.

Sy het in Desember die derde plek by die 20ste Internasionale UCMAS Abacus & Mental Arithmetic-kompetisie behaal, dít nadat sy kort tevore eerste by die nasionale UCMAS-kompetisie geëindig het.

By dié kompetisie moes die 11 400 deelnemers 100 optel- en aftreksomme, 100 maal- en 100 deelsomme binne agt minute sonder ’n telbord of sakrekenaar uitwerk.

Kruger, ’n leerling aan die Laerskool Impala in Kempton Park, het gesê dit was baie senutergend.

“Daar is duisende toeskouers en almal kyk vir jou terwyl jy ’n baie kort tyd het om die somme te doen.”

Haar UCMAS-kursusinstrukteur, Judy Janse van Rensburg, het gesê dis fantasties om te sien hoeveel sy gevorder het sedert sy ses jaar gelede met die hoofrekene-klasse begin het.

“Daar is verskeie vlakke van internasionale graderingseksamens. Graad 1 is die hoogste en graad 12 die laagste. Sy het al graad 5 geslaag, wat beteken sy kan kwalifiseer as ’n onderwyser.”

Die slaagvereistes vir dié eksamen is 70%, maar dis geen probleem vir Carika – sy het sommer 100% gekry. Sy kry ook vir geen vak op skool onder 90% nie en kry 97% vir wiskunde.

Carika Kruger (11) van Kempton Park kan 300 somme binne agt minute doen sonder ’n sakrekenaar of telbord. Foto: Denzil Maregele
Carika Kruger (11) se kursusinstrukteur, Judy Janse van Rensburg, lees vir haar ’n reeks getalle wat sy bymekaar moet tel sonder ’n pen, papier, sakrekenaar of telbord. Foto: Denzil Maregele

Carika staan soggens om 05:30 op en oefen dan haar somme vir 20 minute voordat sy skool toe gaan.

“Dis ongelooflike harde werk. Die kinders moet elke dag werk en oefen. Dis soos om ’n instrument soos klavier te bemeester.”

Volgens Janse van Rensburg moet die kinders elke dag die vaardighede verder ontwikkel wat hulle aanleer om uitstekend by die UCMAS-kompetisies te presteer. Dit sluit onder meer konsentrasie, verbeelding, geheue, waarneming, kreatiwiteit, oordeel, toepassing en redenasievermoë in.

“Die kinders kan ook al die somme doen terwyl daar ’n geraas in die agtergrond is. Hulle kan ook ’n gesprek met jou voer terwyl hulle met die vraestel besig is.”

Haar droom is om eendag ’n rekenmeester te word.

“Ek hou baie van somme. My familie hou ook baie daarvan. Ek dink dit is waar ek dit gekry het.

“Maar wanneer ek nie somme doen nie, lees ek baie graag, bestuur 4x4’s in die woestyn in Namibië en neem foto’s.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.