Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kêrel wat Baby Lee glo skiet, in botsing – 2 sterf

’n Polisieman wat glo die Suid-Afrikaanse bokskampioen Leighandre (Baby Lee) Jegels (25) doodgeskiet het, het van die skiettoneel weggejaag en kort daarna teen ’n bakkie gebots. Die twee insittendes van die bakkie is in die ongeluk dood.

Leighandre (Baby Lee) Jegels

Die polisie het Vrydagmiddag agt koeëldoppies opgetel op die plek waar Jegels langs Voortrekkerweg in Mdantsane naby Oos-Londen doodgeskiet is, het Sontaga Seisa, woordvoerder van die polisie se onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), Saterdag aan Rapport gesê.

Jegels (25) en haar ma, Rita Jegels, het Vrydag in haar Golf-motor na ’n boksoefening in Mdantsane gery toe die polisieman, haar kêrel, hulle glo geskiet het.

Sy is op die toneel dood en haar gewonde ma is in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal in Oos-Londen.

Daar was glo voor die skietery ’n “huishoudelike geskil” en Jegels het vroeër ’n beskermingsbevel teen haar kêrel bekom.

Volgens Seisa is dit nog nie bekend hoeveel skote elk van die twee vroue getref het of wat die kaliber was van die vuurwapen waarmee hulle geskiet is nie.

Die polisieman, wat verbonde is aan Oos-Londen se taktiese reaksiespan, was nie aan diens nie.

Seisa sê hy was aan’t vlug toe hy buite die dorp Peddie, sowat 90 km van Oos-Londen, reg van voor teen ’n Isuzu-bakkie gebots het. Hy is in die botsing beseer en daarna in hegtenis geneem, maar hy is steeds in die hospitaal. Twee mense in die bakkie is dood. Klagte van strafbare manslag word ondersoek.

Opod ondersoek die skietery en die polisie die botsing. Die polisieman sal, as hy fisiek in staat gaan wees, môre in óf Mdantsane óf Oos-Londen in die hof verskyn, sê Seisa.

Dr Peter Malefetsane Ngatane, Boks Suid-Afrika se voorsitter, het gesê Baby Lee was ’n veelvoudige kampioen en een van die land se suksesvolste vroulike boksers.

Baby Lee se professionele boksloopbaan het op 6 Junie 2014 begin. Volgens Ngatane het sy binne twee jaar Suid-Afrika se junior kampioen in die kapokgewigafdeling geword. Sy was later die WBA Pan-African junior kapokgewigkampioen. Baby Lee was onoorwonne in haar nege gevegte, waarvan sy sewe met uitklophoue gewen het.

Voor haar boksloopbaan het sy ’n swart gordel in karate verwerf, sê hy. Sy was ’n onderwyseres en lid van die All Winners-boksklub. Die boksgemeenskap is geskok oor haar dood.

Meer oor:  Leighandre Jegels  |  Motorongeluk  |  Moord  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.