Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kerk, immigrante in spoglandgoed kwel

Op sy webblad roem die Rietvlei View Country Estate op ’n landelike leefstyl met rustigheid en asemrowende sonsondergange, maar nou het ’n huiseienaar dié rustigheid kom versteur – met kerkdienste nogal.

En asof die kerkdienste nie genoeg was om haar bure se siele te versondig nie, het die huiseienaar, Sechaba Bapela, glo ook kamers op haar perseel uitverhuur. Die polisie het in 2014 ’n klopjag uitgevoer en 18 onwettige immigrante daar in hegtenis geneem.

Al dié klagtes van die huiseienaarsvereniging is vervat in hofstukke wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is. Die hof het die huiseienaars gelyk gegee en Bapela aangesê om voort­aan die landgoed se reëls te gehoorsaam.

‘Sy het ook sonder toestemming ’n boorgat laat sink.’

Ingevolge die titelakte-voorwaardes wat sy nou móét nakom, mag die eiendom vir geen ander doel gebruik word as ’n landelike woning nie.

Rietvlei View, langs die Rietvleidam, suidoos van Pretoria, is een van net ’n paar ontwikkelings in Gauteng waarvan elke eiendom een hektaar groot is.

Sechaba en haar man, Matsobane Bapela, het op 31 Oktober 2003 hul erf gekoop, maar hulle het sedertdien geskei.

Regter Colleen Collis het in haar uitspraak in die vereniging se aansoek teen Sechaba gesê streng voorwaardes geld vir gebruik van die eiendomme om die landgoed se wese te behou.

Die titelakte-voorwaardes sluit in dat bouplanne by die Kungwini-munisipaliteit ingedien moet word voordat enige bouwerk begin. En totdat die huis klaar is en die munisipaliteit ’n okkupasie-sertifikaat uitgereik het, mag niemand op die erf woon nie.

Geen strukture van yster, staal, hout of voorafvervaardigde materiaal mag op die erf opgerig word nie. Die sypaadjies moet netjies en skoon wees.

Geen nywerhede, handeldrywery en advertensieborde word toegelaat nie. Niemand mag in tente of woonwaens op die erwe bly nie.

Maar Sechaba het herhaaldelik die voorwaardes verbreek, sê die inwoners. Sy het haar ook nie gesteur aan hul versoeke en aanmanings nie. Sy het ook nie haar perseel altyd netjies gehou nie.

Sechaba het sonder goedkeuring van die oorspronklike bouplan afgewyk toe sy aanbouings gedoen het om ’n gastehuis te begin.

Daarna het sy kamers aan sowat 20 mense begin verhuur én in naweke kerkdienste begin hou wat fluks bygewoon is.

Sy het ook sonder munisipale toestemming ’n boorgat laat sink. Sy het gesê sy het een laat sink nadat sy agtergekom het dat “veral wit eienaars” boorgate in die landgoed het, sê die vereniging.

Sechaba se verweer by die hof was dat die vereniging sy voorwaardes “selektief” afdwing.

Sechaba het ontken dat sy kamers verhuur, maar sy het dit nie betwis dat die polisie mense daar in hegtenis geneem het nie.

Collis sê as só baie mense in die klopjag gevind is, is die enigste afleiding dat hulle inderdaad daar gewoon het.

Sechaba moet ook die vereniging se regskoste vir die saak betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.