Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kerkberaad: ‘Herstel’ van ‘huwelik tussen gemeentes’

“As jy hier sit om jou eie koninkryk te verdedig of te beskerm, is jy op die verkeerde plek.”

Só het ds. Pieter Badenhorst, leraar van die NG kerk Moreletapark in Pretoria gesê by ’n spesiale beraad wat Dinsdag by dié kerk gehou is.

Ds. Pieter Badenhorst
Ds. Pieter Badenhorst

Die beraad fokus, volgens die program, op die interpretasie van die Bybel na aanleiding van besluite wat by die algemene sinode van 2019 gemaak is.

Die grootste hiervan was die NG Kerk (NGK) se besluit om ruimte te skep vir selfdegeslagverhoudings in die kerk. Dit het gelei tot ongelukkigheid in sommige gemeentes wat nou wonder wat die besluit vir die NGK se toekoms inhou.

Moreleta, ’n makrogemeente, het alle “eensgesindes” (wat hulle ongelukkigheid binne die NGK steun) uitgenooi. Nagenoeg 467 mense het teen 14:00 vir die beraad aangemeld.

Ds. Johann (Tokkie) Ernst, emerituspredikant en een van die paneellede by beraad, het gesê die doel van die beraad is nie om kerkskeuring te veroorsaak of in die hof te gaan draai nie.

“Wanneer daar ontrouheid in ’n huwelik is, is daar altyd die moontlikheid van skeiding, maar skeiding gebeur slegs wanneer huweliksherstel nie werk nie. Ek glo ’n mens moet eers probeer om die huwelik te herstel,” sê Ernst.

Ds. Johann (Tokkie) Ernst
Ds. Johann (Tokkie) Ernst

In dieselfde asem het Ernst ook gevra of die kerk nog die krag het om te baklei en die “huwelik” tussen gemeentes wat van mekaar verskil, te probeer herstel.

Hy sê drie faksies het nog altyd in die kerk bestaan: die behoudendes, die gematigdes en die vrydenkendes. ’n Botsing het nou tussen die behoudendes en die vrydenkendes ontstaan.

Ernst het verwys na ’n besluit oor homoseksualiteit in die kerk wat by die algemene sinode van 2007 geneem is. “Die besluit was ’n middelpunt waar die behoudendes nie meer net gesê het dis sonde nie en waar die vrydenkendes ingestem het ons kan nie net dit wat die Woord sê verwerp nie,” sê Ernst.

In 2015 het die algemene sinode besluit om ruimte te skep vir selfdegeslagverhoudings. In 2016 is die besluit na ’n buitengewone sinodesitting tersyde gestel. ’n Hofbevel het egter bepaal dat die 2015-besluit weer geld. In 2019 het die algemene sinode ’n besluit geneem wat baie met die 2015-besluit ooreenstem. “So ons sit basies nou weer by 2007 en nou moet ons die pad vorentoe bepaal,” sê Ernst.

Die beraad duur voort.

Meer oor:  Ng Kerk Moreletapark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.