Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kerke oor kospakkies: ‘Ons kies om vennote te wees’
“Al die gesinne in erge nood moet kospakkies kry, nie net sekeres nie.” So sê Jakobus Booysen, stigter van die Lighuis, ’n gemeenskapsentrum in Heidedal, Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

As die Vrystaatse regering die uitdeel van kospakkies sentraliseer, sal ’n gemeenskapsentrum in Bloemfontein dalk nie meer weekliks sowat 200 gesinne in Heidedal van kospakkies kan voorsien nie.

So sê Jakobus Booysen, stigter van die Lighuis, ’n gemeenskapsentrum wat fokus op kinders en maatskaplike opheffing. “Ons glo almal moet kospakkies kry, nie net sekere mense nie.”

Die polisie was hulle egter tot op hede net goedgesind, sê hy.

Ds. De la Harpe le Roux van Torings van Hoop deel dié ervaring en sê die polisie staan hulle juis by om kontak te maak met maatskaplike ontwikkeling.

Le Roux sê wanneer daar amptelike kommunikasie oor die uitdeel van kospakkies kom, sal hy alles probeer om die reëlings te gehoorsaam.

“Wat ons egter nie sal doen nie, is om kospakkies en hulpbronne vir een of ander regeringspakhuis af te laai.”

Die regering het volgens hom nie die kapasiteit om by almal uit te kom nie en moet nou met die geloofsgemeenskap en nieregeringsorganisasies hande vat.

“Ons wil absoluut langs die regering staan. Ons gaan nie nou daarmee ophou omdat daar gerugte is nie.”

Kospakkies word by die Lighuis, ’n gemeenskapsentrum in Heidedal, Bloemfontein, afgehaal. Foto: Mlungisi Louw

Torings van Hoop het ’n sopkombuis en bied ook ’n heenkome aan haweloses en vroue wat vasgevang is in prostitusie.

Hulle het tot verlede week nog daagliks ’n sopkombuis gehad, maar moes dit in samewerking met die polisie eers staak omdat die getalle te groot geraak het en hulle nie meer aan die Covid-19-regulasies kon voldoen nie.

“Ons soek nou na alternatiewe maniere om steeds kos uit te kry by hulle wat op straat of in woonstelle in die stad is.”

Elke week kom inwoners wat kwalifiseer (wat geen inkomste het nie, en net een kind op ’n Sassa-toelae het) met ’n koopbewys om ’n kospakkie te kan kry. Foto: Mlungisi Louw

In Heidedal gee die Lighuis daagliks vir 300 mense, onder wie 200 kinders, kos.

Dit is buiten die kospakkies vir mense wat ’n bestaan voer uit loswerkies en nou sonder dié inkomste moet oorleef.

Verlede week kon die kerk R9 000 se kos koop. “Die kos is egter glad nie genoeg nie en ons sal nie weekliks kan volhou daarmee tensy ’n wonderwerk gebeur nie.”

Hy sê as die virus in Heidedal moet uitbreek, weet hy nie wat met die Lighuis gaan gebeur nie.

Susan van Douw (51), ’n vrywilliger, sê die Lighuis het ’n groot verandering in Heidedal gebring. Danksy die kospakkies gaan dit volgens haar beter met die inwoners wat nie Sassa-toelaes ontvang nie.

In sommige erwe is vier sinkhuise met verskillende gesinne sonder ’n inkomste, sê sy. Mario Riddels is een so ’n inwoner. “So ’n pakkie help baie en hou my baie lank.”

Le Roux sê hy kies om nie die polisie, regering en maatskaplike ontwikkeling as die vyand te beskou nie.

“Ons wil graag vennote wees, en ek praat nie net namens Torings nie.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kospakkies  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.