Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kerkeenheid: ‘25 vermorste jare’

Die NG Kerk word in ’n nuwe dokumentêre film daarvan beskuldig dat hy nie ernstig is oor eenheid met die swart en bruin Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) nie, hoewel die NG Kerk self vir die voortgesette trae pas van hereniging ’n heel ander verduideliking gee.

Allan Boesak

In die 26 minuut lange dokumentêr oor die VGKSA se geskiedenis, In Gods naam, plaas kerkleiers en kerkhistorici ook opnuut die NG Kerk se weiering onder die vergrootglas om die Belhar-belydenis te aanvaar en praat van “25 vermorste jare” wat kerkeenheid betref.

Ook slawerny, kolonialisme, rassisme en die NG Kerk se betrokkenheid by apartheid kom in die film aan die bod, wat aan die begin van Oktober op YouTube bekend gestel is. Dit is deur die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria (UP) in samewerking met die VGKSA-gemeente SA Gestig vervaardig.

Prof. Allan Boesak, voormalige moderator van die VGKSA, sê in die film hereniging sal nie outomaties gebeur nie. “As ons ernstig oor hereniging is, dan moet ons oomblikke skép waar wit en swart mense saam aanbid,” sê hy. “Dit gebeur nie outo­maties nie. Want ons het al 25 jaar gemors. En soveel het al gebeur. Daar het ’n verharding plaasgevind en rassisme is meer volop. So ook homofobie en xenofobie. Ek dink nie dit is te laat nie, maar ons het dit soveel moeiliker vir onsself gemaak.”

Maar is ras regtig die grootste struikelblok, vra moderator.

Prof. Johan van der Merwe, professor in teologie aan die UP, sê die feit dat ’n groot aantal lidmate van die NG Kerk die Belhar-belydenis verwerp en die NG Kerk dit nie as ’n belydenisskrif aanvaar nie, belemmer kerkhereniging.

Belhar het enige leer wat gedwonge skeiding uit die evangelie wil legitimeer, as dwaalleer bestempel.

“Belhar is vir die VGKSA ononderhandelbaar. As dit nie op een of ander manier uit die pad kom nie, gaan dit ’n groot krisis op die pad na kerkhereniging bly.”

Hy sê baie NG lidmate is onentoesiasties oor kerkhereniging aangesien hulle weens kwessies soos regstellende aksie polities blootgestel voel.

Prof. Klippies Kritzinger, professor in teologie aan Unisa, sê sommige lidmate vrees ook dat hulle in Engels of in swart tale sal moet aanbid of hul identiteit verloor.

Insgelyks is talle swart lidmate volgens Kritzinger weens die apartheidsgeskiedenis nie vreeslik opgewonde oor nouer bande met die NG Kerk nie.

“Hulle wonder of wit mense regtig kan verander. Daar is ’n wantroue dat kerkhereniging kan werk,” sê Kritzinger.

Ds. Riaan de Villiers, leraar van die Groote Kerk in Kaapstad, het in die paneelbespreking gesê die NG Kerk is op ’n “mislukte pad na kerkhereniging”.

Hy het aan Rapport gesê hy besef eenwording is ’n proses, maar die vordering is te stadig.

“Ons het tot dusver misluk om die geleentheid aan te gryp vir herstel en versoening wat God se plan en visie vir sy kerk en skepping is.”

Hy sê hy verstaan nie waarom die NG Kerk nie Belhar wil aanvaar nie.

“As ons nie Belhar wil bely nie, wat het ons dan oor om te sê oor ons verlede en vir ons huidige konteks van onreg en al die uitdagings wat ons mede-Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar?”

Dr. Llewellyn MacMaster, moderator van die VGKSA Streeksinode Kaapland, het gesê die wêreldwye toename in identiteitspolitiek het mense van mekaar vervreem en dat dit ook eenwordingspogings beïnvloed.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode (AS), sê die kritiek is ongegrond dat die NG Kerk nie vordering maak met kerkhereniging nie.

“Jy moet versigtig wees oor emosionele uitsprake. Dit is onverantwoordelik om goed te sê soos dat die NG Kerk op die mislukte pad na kerkhervorming is.”

Hy sê daar is bitter hard gewerk om te verseker dat gemeentes, ringe en streeksinodes binne die kerkorde kan herenig.

“Die tussenorde wat hiervoor geskep is, het ontstaan weens ’n dringende poging van ons kant af om ’n bedeling te skep waar gemeentes een kan word.”

Janse van Rensburg sê die aanvaarding van Belhar sou wel die proses vergemaklik het.

“As jy my vra, moes die NG Kerk al 30 jaar gelede Belhar bely het. Dit sou ons nou in ’n posisie geplaas het om baie sterker getuienis te kan lewer oor eenwording. Dit is steeds nie te laat nie.”

Hy sê kerkeenheid is nie die enigste manier waarop die NG Kerk sy bedieningsfokus verbreed nie. “Ons het aanbeweeg van kerkeenheid. Die Goudland-sinode is ’n goeie voorbeeld – hulle het 26 swart gemeentes ingeneem en deel gemaak van die kerk.”

Hy sê onlangse navorsing wys dat 14% van gemeentes in die Wes-Kaap gesê het hulle is multikultureel en 15% is op pad na multikulturaliteit.

Hy sê ras is ook nie die grootse kwessie om kerkhereniging te bewerkstellig nie.

“Ons vind dat verskillende kulture en gevestigde gewoontes binne gemeentes, afstande tussen kerke, en die geografiese nalatenskap van apartheid groter struikelblokke is vir gemeentes om een te word.”

Meer oor:  Ng Kerk  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.