Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kerse vir Kersfees danksy Eskom
Eskom sit die ‘kers’ terug in Kersfees met beurtkrag wat in Desember ingetree het. Foto: Reddit Suid-Afrika

“Eskom sit die ‘kers’ terug in Kersfees.”

Dít is maar een van die talle grappies wat sedert verlede week op sosiale media vlamgevat het nadat Eskom kort voor Kersfees aangekondig het dat hy beurtkrag instel.

Eskom het Suid-Afrikaners byna onmiddellik in die diep kant ingegooi toe hy aankondig fase 4-beurtkrag tree in werking.

Talle sosialemediagebruikers was geskok en wou weet hoekom fase 3-beurtkrag oorgeslaan word.

Die kragverskaffer het toe aangekondig dat die netwerk in duie sal stort as beurtkrag nie toegepas word nie.

Eskom het Sondagaand in ’n verklaring gesê bykomende elektrisiteit het vroeër die dag verlore gegaan weens krageenhede wat onklaar geraak het. Teen 19:00 was daar ’n verlies van 12 000 MW.

Dié verlies het veroorsaak dat meer water en diesel Sondag by onderskeidelik Eskom se oopsiklus-gasturbines en wateropgaarskemas gebruik moes word.

Die masjien is stukkend en daarom het niemand elektrisiteit nie. Foto: Reddit Suid-Afrika
Eskom is minstens ’n week laat met sy Swart Vrydag-winskopies. Foto: Reddit Suid-Afrika
Dié gebruiker wys hoe hy voel wanneer hy uiteindelik aan die slaap kon raak, maar die krag skielik aangaan. Foto: Reddit Suid-Afrika

Hoewel Suid-Afrikaners hulle vandeesweek teen fase 2-beurtkrag moet staal, het baie mense op sosialemediaplatforms soos Reddit en Twitter die spot met die kragsituasie gedryf.

“Daar was gisteraand beurtkrag. Ek het besluit om ’n braai te hou. Hier is van die foto’s,” het een Suid-Afrikaner op Reddit geskryf en vier pikswart foto’s gedeel.

Ander Reddit-gebruikers het nie op hulle laat wag nie, en nog grappies het gevolg.

“So, dit is waarheen my vrou is. Ek sien haar daar in die hoekie,” het een geskryf, terwyl ’n ander die vleisbraai gekomplimenteer het.

Nog Reddit-gebruikers het snaakse memes geplaas sodat Suid-Afrikaners in kerslig kon saamlag.

Dié katjie wil weet wanneer die vrou besef het sy haat Eskom. Foto: Reddit Suid-Afrika

Een van dié foto’s is van ’n vrou wat skree dat sy Eskom haat, waarna ’n kat vra met watter fase het sy dít besef, terwyl ’n ander gebruiker ’n foto geplaas het waarin hy wys hoe hy voel wanneer hy uiteindelik aan die slaap raak, maar dan gaan die ligte skielik aan.

Nog een het daarop gewys dat Eskom ’n week laat is met sy Swart Vrydag-winskopie nadat Suid-Afrikaners net die vorige Vrydag geld op Swart Vrydag bestee het.

Die Twitter-gebruiker @ninjaro het ’n foto van ’n huilende baba op Twitter gedeel en skryf hy moes liewer ’n kragopwekker in plaas van ’n denim op Swart Vrydag gekoop het.

Party het Eskom met sekere kitskosrestaurante vergelyk wat soms nie roomys het nie omdat hul masjien stukkend is, terwyl ’n Twitter-gebruiker geskryf het dat sy Maandagoggend nie koffie kon maak, haar klere kon stryk of haar hare kon doen nie.


Meer oor:  Eskom  |  Memes  |  Beurtkrag  |  Grappies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.