Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kestell-legende se dood ‘groot verlies’

Die dood van die boekwinkeleienaar van Kestell in die Vrystaat wat Vrydagnag in sy huis vermoor is, “is ’n baie groot verlies vir die dorp”.

Só sê ds. Dubois du Toit, predikant van die NG kerk Kestell, nadat Johann Ramage (77) met verskeie steekwonde en ’n kopwond in sy huis gevind is.

Johann Ramage by die Retief-boekwinkel. Foto: Argief

Ramage het ongeveer 44 jaar lank in die kerkraad gedien.

“Hy was ’n legende in die omgewing, ’n ewige kunstenaar. Hy wou mense altyd met stories vermaak,” het Du Toit Sondag gesê.

Ao. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie.

Die gemeenskap het Saterdag onraad vermoed toe Ramage nie op sy pos was om die koerant by die Retief-boekwinkel te verkoop nie.

“ ’n Lid van die gemeenskap het hom met verskeie steekwonde en ’n wond aan sy kop op die vloer van sy huis se gang gevind,” sê Earle.

“Hy is Vrydagaand laas lewend gesien. Dis nog onduidelik of iets uit sy huis gesteel is. Die huis was wel baie deurmekaar, asof iemand dit deursoek het.”

Sy hond, waarvoor hy baie lief was, word deur ’n lid van die gemeenskap versorg.

“Hy was baie nou betrokke by die kerk, by die gemeenskap en die mense. Hy het ’n baie goeie geheue gehad en het veral baie oor ons dorp en sy mense se geskiedenis geweet,” sê Du Toit.

Hy het ook nooit teruggestaan om iemand te help nie.

Johann was iemand met ’n sagte hart wat ook by Volksblad familie gevind het. Sy bydrae en geesdrif was besonders.
Gert Coetzee

In die tuismuseum wat hy en sy ma, Rita, in hul winkel begin het, het hy talle geskiedkundige Volksblad-verwante stukke bewaar.

Oor jare heen het hy daarvan aan Volksblad geskenk.

Soms het by die koerant se kantore in Bloemfontein kom ronddwaal “sommer net om te behoort”.

Hy was baie na aan die Oos-Vrystaatse redaksielede.

Gert Coetzee, redakteur van Volksblad, sê die koerant het een van sy getrouste ondersteuners en agente tragies verloor.

“Johann was iemand met ’n sagte hart wat ook by Volksblad familie gevind het. Sy bydrae en geesdrif was besonders. Ons gedenk sy nagedagtenis en nalatenskap.”

Petro Jordaan, persoonlike assistent by Volksblad, sê Ramage het haar Donderdag nog gebel.

“Hy het my op ’n gereelde grondslag gebel,” sê sy.

“Net om te hoor hoe dit gaan en om vir almal hier groete te stuur.”

Hy het elke prysuitdeling, elke konsert, álles kom bywoon en ondersteun.
Abrie Beukes

Sy beskryf sy dood as tragies.

“Hy was ’n doodgoeie mens wat nie eers ’n vlieg skade sou aandoen nie. Hy sou altyd iets vir iemand anders gedoen het, al het hy self min gehad.”

Hy het reeds planne gehad om sy winkel se 80ste verjaardag in 2019 saam met Volksblad te vier.

Abrie Beukes, hoof van die Hoërskool Retief in Kestell, sê Ramage was getrou betrokke by elke geleentheid van die skool.

“Hy het elke prysuitdeling, elke konsert, álles kom bywoon en ondersteun.”

Dus sal hy, nes sy ma uit die skoolsaal en nie die kerk nie begrawe word.

Ramage was nooit getroud nie.

Hy het baie bygedra tot onder meer die kinderhuis op die dorp en die Volksblad-Kersfonds.

“Ek het baie respek vir hom gehad. Hy het ’n baie goeie hart gehad en was altyd bereid om te help,” sê Beukes.

Meer oor:  Johann Ramage  |  Vrystaat  |  Kestell  |  Sterfgeval  |  Boekwinkel  |  Misdaad  |  Steekwonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.