Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kewer hou gevaar vir bome in

Klink dit vreemd dat ’n 2 mm grootte kewer ’n fungus dra wat die bome in Johannesburg op ’n groot skaal doodmaak?

Kenners meen dis geen oordrywing nie.

“Ek het altyd gewonder hoekom so baie bome langs Ontdekkersweg vrek. Nou lees ek dat ’n insek van 2,5 mm die bome met ’n fungus besmet en dat die meeste bome in Gauteng gaan uitsterf. Ek beskou dit as ’n reuseramp,” skryf Willem van Florida aan die Wes-Rand.

Die Johannesburg-metro se parke-en-dieretuinafdeling (JCPZ) sê in ’n mediaverklaring hy het eers in Januarie bewus geraak dat ’n plaag polifagiese boorkewers (Euwallacea sp.) die bome met ’n dodelike fungus (Fusarium sp.) besmet.

“Die probleem is erg. Ons sien dit oral in Johannesburg,” sê Julian Ortlepp, van Tree Works.

“Ek betree min eiendomme wat dit nie het nie. Dit word nie beperk tot private eiendomme nie. Dit is ook in die bome in die strate en parke.”

Hoewel die kewer opsigself nie dodelik is nie, moet dit uitgewis word om te verhoed dat die fungus versprei.

’n Voorbeeld van ’n boom wat met polifagiese boorkewers (Euwallacea sp.) besmet is.Foto’s: Tree Works via Facebook

Doringbome en eikebome gaan vinniger dood, maar Londense plataanbome en Australiese vlambome word ook besmet.

“Die eikebome se takke gaan een vir een dood. Die plataanbome word ’n mosterdgeel kleur en die kruine word dunner. Dit blyk al die bome reageer anders op die fungus,” sê Ortlepp.

Dit is nie bekend hoe die kewer, glo van Suidoos-Asië, in Suid-Afrika beland het nie.

“Dit is moontlik dat dit in ’n skeepslading met hout in die land gekom het.

“Die bewering is nie bevestig nie, maar daar is geen ander aanvaarbare verduideliking nie,” sê Ortlepp.

’n Ou Engelse eikeboom is met die fungus besmet en Tree Works behandel dit in die hoop dat hulle die boom kan red.

Hy sê die kewer se teenwoordigheid het tydens die droogte in 2016 duidelik geword.

“Dit lyk asof die kewers in droë toestande floreer. Dit is ’n bekommernis, siende dat die Kaap ’n ernstige droogte ervaar en die tuiste van die land se oudste bome is.”

Die probleem kan nie sommer vinnig opgelos word nie.

JCPZ sê daar is geen oplossing om die kewer of die fungus te beheer nie.

“Die huidige oplossing is om die hoogs besmette bome te verwyder,” lui die verklaring.

Inwoners kan die bome in stand hou deur die bome te voed en water te gee, sê JCPZ.

Steriliseer jou tuingereedskap ná gebruik.

’n Voorbeeld van ’n boom wat met polifagiese boorkewers (Euwallacea sp.) besmet is.Foto: Tree Works via Facebook

Ortlepp sê ’n mens moet seker maak die besmette hout word nie landuit vervoer nie, omdat die plaag só versprei word.

“Houtkappers wat nie van die probleem weet nie, doen dalk juis dit.

“JCPZ moet die probleem ook ’n prioriteit maak en spesifieke stortingsterreine vir hout skep.”

Boonop is ’n omvattende bewusmakingsveldtog nodig om huiseienaars en houtkappers van die probleem in te lig.

Ortlepp sê hulle het al sukses gehad met ’n boom wat hulle ’n ruk lank direk met ’n fungus- en insekdoder bespuit.

Meer oor:  Metro Beeld-Suid  |  Johannesburg  |  Omgewing  |  Fungus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.