Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Khwezi ‘praat’ deur Redi se boek

Dié boek is ’n geskenk aan Fezekile Kuzwayo (Khwezi) en Suid-Afrika.

Judith Hawarden raak skoon emosioneel as sy oor Khwezi: The Remarkable Story of Fezekile Ntsukela Kuzwayo uit die pen van radiopersoonlikheid en joernalis Redi Tlhabi begin praat.

Redi Tlhabi teken haar boek Khwezi: The Remarkable Story of Fezekile Ntsukela Kuzwayo tydens die bekendstelling in Melville Donderdagaand. Foto: Jana Marx

Hawarden is een van sowat 200 mense wat die boekbekendstelling Donderdagaand by Love Books in die Bamboo-sentrum in Melville bywoon het.

“Sy het vir Fezekile ’n stem gegee; haar in ons huise ingebring. Dié boek is ’n herinnering aan die afgryslike onreg wat aan vroue gedoen word,” sê Hawarden.

Mans in vername posisies en gepaardgaande magsmisbruik staan sentraal in hierdie boek.

Pres. Jacob Zuma is in 2006 in die Johannesburgse hooggeregshof onskuldig bevind op die aanklag dat hy Khwezi verkrag het.

Augustus 2016, tien jaar ná hierdie voorval, het vier vroue stil tydens Zuma se toespraak oor die munisipale verkiesing geprotesteer, met plakkate wat lees: “Onthou Khwezi”.

Ná haar onsuksesvolle verkragtingsaak, het Khwezi landuit gevlug. Sy het skaars weer voet op Suid-Afrikaanse bodem gesit, toe Tlhabi haar nader om haar lewensverhaal te skryf.

Die boek gee Khwezi se identiteit aan haar terug, meen Tlhabi. “Sy het in vrees geleef. Sy het gesigloos en naamloos geword. Sy was met die skryf van hierdie boek vir die eerste keer gereed om haar identiteit terug te kry. Dis ook waarom die boek nou eers verskyn.

Vier vroue protesteer stil terwyl pres. Jacob Zuma die nasie toespreek in 2016. Foto: Deon Raath, Argief

“Die boek gaan nie oor Zuma nie. Ek ‘gebruik’ Fezekile se verhaal om belangrike foute in die samelewing uit te wys. Die boek is ’n weerspieëling van mans in bevoorregte posisies se nonchalante houdings teenoor vroue en kinders. Die hele Zuma-sage en die feit dat hy twee maal tot president verkies is, is tekenend van die toksiese mag in ons land,” sê sy.

Tlhabi het plek-plek vurig geword. “Ons kán nie verlief neem met wat hier gebeur het nie!”

Sy verwys onder meer na die eerste keer toe Khwezi verkrag is. “Sy het tydens die apartheidsjare in die ANC-kampe gewoon en is deur sogenaamde ‘ooms’ verkrag.

Sy was vyf, 11 en 12 jaar oud. Die hof het bevind die seks was konsensueel. Hulle het aangevoer die mans was haar kêrels. Hoe is hierdie enigsins ’n argument waar daar seks met ’n minderjarige ter sprake is?” vra Tlhabi.

Die kindertrauma het haar lewe lank by haar gespook. Sy kon, volgens Tlhabi, nooit tot rus kom nie.

“En hier herhaal die onreg homself en die hof stel in 2006 vrae aan haar soos, ‘watter klere het jy aangehad?’ en ‘hoe het jy op die stoel gesit?’ asof dit enigsins verkragting regverdig. Die gereg was afwesig en het haar in die steek gelaat. Selfs al is Zuma skuldig bevind, sou geregtigheid steeds nie geseëvier het nie, omdat Khwezi uit die staanspoor verkeerd benader is.”

Tlhabi vertel sy het vir ongeveer ’n jaar probeer om Khwezi te nader. “Ek het deur mense wat sy vertrou met haar gepraat. Sy was ontsaglik bang. As ek vir haar ’n pakkie wou stuur, moes ek dit aan ’n skuilnaam rig.”

Khwezi is op 8 Oktober 2016 kort ná die stille protes dood nadat sy lank siek was.

“Sy was die goedheid vanself. Ek dink sy het in die moeilike situasies beland omdat sy mense aanvanklik so maklik vertrou het. Sy het nooit verskuilde agendas gehad nie en het ook nie verwag ander sal dit hê nie,” vertel Tlhabi.

Sy sê sy het sedert die boek verskyn het al baie teenkanting ervaar. “Baie mense vra my waarom ek met hierdie persoon ’n onderhoud gevoer het en nie met daardie een nie. Voor Khwezi se dood het sy vir my ’n lys van mense gegee met wie ek kon praat. Party het ingestem, ander nie. Die mense in die boek is dus haar keuses.”

Sy sê ook dit het later aan die lig gekom Khwezi was lesbies. “Ek hoor nou ek het Khwezi se lesbiese identiteit ‘uitgevee’. Ek kon nie daaroor skryf nie, want sy het dit nooit self vir my gesê nie. Die minnaars na wie sy my verwys het, was almal manlik. As ek dit geweet het, het ek dit beslis in die boek geskryf,” sê sy.

Vroeër is berig Tlhabi se Twitter-rekening is verlede week deur ’n kuberkraker aangeval.

Volgens Aki Anastasiou, verslaggewer by Radio702, is Tlhabi se rekening deur die @starboy_team aangeval en alle twiets is geskrap. Sy het haar rekening met 357 000 volgelinge gesluit.

“Ek kan met selfvertroue en sonder vrees sê dat dit die Staatsveiligheidsagentskap is wat agter die aanval op Redi Tlhabi se Twitter-rekening is,” lui ’n twiet van adv. Tembeka Ngcukaitobi. Dit is nie bekend of dit Ngcukaitobi se regte rekening is nie.

Tlhabi het aan die Citizen gesê sy vind die kuberaanval “hoogs ontstellend” aangesien dit in ’n week gebeur het waar sy verneem het mense wil die boek gebruik om die ANC-verkiesing te beïnvloed.


Meer oor:  Fezekile Kuzwayo  |  Khwezi  |  Redi Tlhabi  |  Bekendstelling  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.