Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kilian het geen kursus vir sekerheid in Kaapstad gedoen

Die sertifikaat wat verlede Vrydag by die landdroshof in Bishop Lavis as bewys ingedien is dat Zane Kilian ’n geregistreerde private speurder is, kom van ’n onderneming in Mitchells Plain wat opleiding vir veiligheidswagte doen.

Zane Kilian Foto: Facebook

Die eienaar van die onderneming in Mitchells Plain se nywerheidsgebied in Beacon Valley was Woensdag stomgeslaan toe navrae oor die sertifikaat aan hom gerig is.

Die man, wat gevra het dat sy naam en dié van sy onderneming nie genoem word nie, het by navraag gesê Kilian het beslis nooit enige kursus van enige aard by hulle gedoen nie.

Hy het bygevoeg as Kilian enige van die vlak-kwalifkasies by hulle gedoen het, sou hy fisiek klasse moes bywoon.

Kilian is op 22 September vier dae ná die sluipmoordaanval op lt.kol. Charl Kinnear, by sy huis in Springs aan die Oos-Rand deur Wes-Kaapse speurders in hegtenis geneem.

Kinnear was ’n speurhoof by die Wes-Kaapse bende-eenheid.

Hy was aan hoof van ’n ondersoek wat verband gehou het met die onwettige uitreiking van vuurwapenlisensies by polisiekantore in Gauteng.

Verskeie polisielede en lede van die publiek, onder meer Nafiz Modack, ’n vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, het reeds in verband met Kinnear se ondersoek in die landdroshof in Kempton Park verskyn.

Skuldinvorderaar vir Modack

Kilian het ook skuldinvordering in Gauteng vir Modack gedoen.

Kinnear is op 18 September deur ’n onbekende man doodgeskiet waar hy in sy voertuig voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, vir sy seun gewag het om sy motor uit die oprit te trek.

Die staat beweer Kilian het Kinnear se selfoon nagespoor.

Intussen het adv. Eckhardt Rösemann, Kilian se regsverteenwoordiger, gesê Kilian het die kursus om as ’n private speurder te kwalifiseer by ’n onderneming in Pretoria gedoen, maar die sertifikaat kom van Mitchells Plain.

Die eienaar van die onderneming in Mitchells Plain het hierop gesê hy het geen samewerkingsooreenkomste met die onderneming wat Rosemann genoem het nie.

Hy het ook gesê dit sal op bedrog neerkom as hy ’n sertifikaat uitreik aan iemand wat nie ’n kursus by hom voltooi het nie en dat dit sy onderneming se naam in die gedrang kan bring.

Rösemann het gesê Kilian is die enigste mens wat nou vrae sal kan beantwoord.

Rösemann het Dinsdag gesê Kilian het by Blue Pen Trading in Krugersdorp sy eksamen geskryf om as ’n private speurder te werk.

Geen opleiding vir private speurders

Wayne Robinson, Blue Pen Trading se eienaar, het Dinsdag gesê hulle doen beslis nie private speurwerk of opleiding vir private speurders nie.

“Ons doen skuldinvordering vir banke.”

Luidens die sertifikaat wat Rosemann by die hof ingedien het, het Kilian op 2 Maart ’n veiligheidskursus suksesvol voltooi wat hom toelaat om op graad E, D en C as ’n veiligheidsdiensverskaffer te werk.

Maar volgens die SA Security Academy is ’n vlak E- en D-kwalifikasie vir veiligheidswagte wat patrolliewerk doen.

’n Vlak C-kwalifikasie is vir iemand wat toegangsbeheer doen. Om as ’n private speurder te kwalifiseer, moet iemand al die kursusvlakke voltooi en sal net toegelaat word as hy of sy ’n vlak A-kwalifikasie het.

Kilian is volgens die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira) nie by hulle as ’n private speurder geregistreer nie.

Kilian se pa, Hein Kilian, ’n afgetrede kolonel in die polisie, het Woensdag gesê sy seun het meestal invordering en beslaglegging doen. Hy het gesê gespesialiseerde werk sou Kilian gewoonlik na sy kontakte neem wat sulke soort werk doen.

Luidens inligting het Kilian drie dae nadat hy die kursus voltooi het, Kinnear se selfoonseine begin naspoor.

Netwerk24 het vroeër berig dat Kilian Kinnear se selfoon maande lank nagespoor het voordat Kinnear koelbloedig doodgeskiet is.

Selfoon nagespoor

Op die dag van sy moord is Kinnear se selfoon van omstreeks 08:00 tot kort ná 15:00 nagespoor.

Daily Maverick het daarna berig dat Kinnear se selfoon sedert Maart vanjaar tot met sy dood meer as 2 000 keer nagespoor is.

Netwerk24 het intussen vasgestel dat die nasporing van Kinnear se selfoon om 15:25 die dag van sy moord gestop het.

Kinnear is om 15:03 geskiet.

Kilian se saak is Woensdag van die landdroshof in Bishop Lavis na die streekhof in Bellville oorgeplaas vir sy borgtogaansoek. Dit sal op 26, 27 en 30 Oktober aangehoor word.

Hy staan tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg en die onwettige onderskepping van kommunikasie. Die staat beweer Kilian het die bepalings van art. 49, saam gelees met art. 51 (b), van die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie en die Verskaffing van Kommunikasieverwante Inligting (Wet 70 van 2002) oortree.

Meer oor:  Zane Kilian  |  Kinnear-Moord  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.