Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kimberley-sjef (37) sterf skielik
Daniel Williams. Foto: Verskaf

Die gemeenskap van Kimberley is Sondag geskok gelaat na die onverwagse dood van ’n bekende sjef en restauranteienaar wat voorverlede naweek nóg ’n restaurant in die stad geopen het.

Daniel Williams (37) is in die oggendure onverwags in sy slaap dood.

Sy vrou, Elise, het die ambulans ontbied, maar hy is op die toneel dood verklaar.

Williams en sy pa, Mike, het vroeër die bekende Butlers-restaurant en -chefskool in Belgravia bedryf. In 2014 het hulle hul bedrywighede na die Occidental-restaurant, ook bekend as The Ox, by die Groot Gat verskuif.

Hulle het gereeld konserte van kunstenaars soos Dan Patlansky, Rowan Stuart en Jan Blohm aangebied. Blohm hou op 9 Maart sy tweede konsert by die Occidental.

Williams het ook plaaslike groepe soos Gage, Stuart Milne en Krüger se konserte aangebied. Twee jaar gelede het hy ’n konsert vir die internasionale blues-kunstenaar Doc Maclean aangebied.

Hy het ook geldinsamelings gehou vir mense wat hulp nodig gehad het ná die brande wat in 2017 gedeeltes van Knysna vernietig het.

Williams het aan die begin van Februarie The Half-restaurant by die Halfway House-hotel, waar Cecil John Rhodes dekades gelede graag vertoef het, oorgeneem.

Hy het op The Half Restaurant se Facebook-blad in ’n video opgewonde vertel van die nuwe spyskaart en binnenshuise versiering van die restaurant. Hy en sy span sjefs het met nuwe slaaie, nageregte en steaksnitte asook gaarmaakmetodes geëksperimenteer.

Hy het nie te veel aan The Half se dekor verander nie om die geskiedkundige atmosfeer te behou.

Sara Williams, sy suster, sê die familie is uiters geskok oor sy skielike dood.

“Hy het niks halfhartig gedoen nie. Hy het alles in die lewe voluit gedoen,” het sy hartseer gesê.

“Ons weet nie wat sy dood veroorsaak het nie. Ons sal moontlik ’n gedenkdiens Vrydag hou, maar ons sal dit eers later kan bevestig.”

Williams het in Kimberley skoolgegaan en matriek aan Kimberley Boys’ High voltooi, waarna hy na die chefskool is. Hy het vir ’n ruk oorsee gewerk voordat hy in 2006 by sy pa en die ondernemings aangesluit het.

Benewens Sara, laat Williams sy vrou, sy ouers, Mike en Christine en broer, Michael, agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.