Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kind (7) wis nog nie pa sterf as held

Lirieke Kleynhans (7) weet nog nie haar pa het haar ma se lewe gered voordat hy in ’n fratsongeluk verdrink het nie.

Die motor het teen Vrydag nog in die rivier vasges
Die motor het teen Vrydag nog in die rivier vasgesit. Foto: Elizabeth Sejake

Lisa le Roux (28) is nog onder streng verdowing sedert sy presies ’n week gelede uit stormagtige, pikdonker vloedwater van ’n gewisse waterdood gered is. Sy wil self vir haar dogter vertel dat haar verloofde en Lirieke se pa, Derrick Kleynhans (30), haar lewe gered het. Maar Lirieke kuier tans by familie in Nieu-Seeland en kan ook nie betyds terug wees vir haar pa se begrafnis nie.

Derrick en Lisa was juis op pad huis toe verlede Sondag nadat hulle Lirieke en haar een ouma by die O.R. Tambo-lughawe gaan afsien het.

Elna Verhoef, Lisa se tannie, wat die afgelope week na haar omgesien het, vertel aan Rapport die paartjie het omstreeks 19:15 ’n laagwaterbrug oorgesteek om by Le Roux se familieplaas naby Hartbeespoort in Noordwes uit te kom. Die gebied was papnat ná ’n week se volgehoue reën.

“Die water het vir hulle oukei gelyk. Lisa sê toe hulle op die brug kom, toe voel sy net hoe lig die kar op.” Sy sê daar was skielik water by die vensters in.

Derrick, Lisa en Lirieke in gelukkiger tye. Foto: Facebook

“Die kattebak het opgelig en die enjin het begin sink en toe begin die kar rol.” Al wat Lisa kon sien, was die ligte van die klein Kia Picanto-motor wat in die stroom meegesleur is.

“Sy vertel hoe sy net (Derrick) se hande gevoel het soos hy die venster gebreek en haar deur die venster gestoot het.” Die laaste woorde wat sy van hom af gehoor het, is “Lisa! Lisa!”.

Lisa kon uiteindelik vashouplek aan ’n boom kry. Die water was só sterk, dit het die klere van haar lyf begin afskeur.

“Sy het my vertel hoe sy net gedink het: ‘Ons kan nie nou iets oorkom nie. Ons het ’n dogtertjie’. Toe begin sy teen die boom opklim en met die takke wat oorhang, kon sy die wal bereik.”

Sy het teen die wal af gehardloop en na hom geroep en gehoor hoe tol die motor “doef-doef” met die stroom af.

Die laagwaterbrug waarvandaan die paartjie meegesleur is. Foto: Elizabeth Sejake

Lisa het deur die bosse haar voete flenters gehardloop tot by die naaste huis, waar bure hulp ontbied het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, sê hul swemmers, Eagle Towing en lede van die Strategiese Reaksie-reddingseenheid het teen ongeveer 21:00 die motor gewaar. Dit was sowat 300 meter stroomaf.

Verhoef sê sy en Lisa het regdeur die aand geglo Derrick sal oorleef. “Lisa het bly sê hy is sterk. Ons het gehoop hy kon ook by die oop venster uitkom. Om 00:05 het die polisie kom sê hy is dood.”

Derrick is op die agterste sitplek van die motor gevind.

Verhoef sê Derrick is ’n held.

“As hy haar nie gered het nie, was sy dood.”

En selfs voor sy heldedaad was hy in klein Lirieke se oë ’n held.

“Lirieke was so lief vir hom en alles wat hy vir haar gegee het, sou sy altyd sê: “My pappa het hierdie vir my gegee”.

Derrick en Lisa was hoërskoolliefdes wat 14 jaar lank saam was.

Hy was besig om sy ambag by ’n myn naby Rustenburg te voltooi. Dit sou Januarie gebeur het.

Verhoef sê hy wou eers sy loopbaan uitstryk voordat hulle trou.

Evert Kleynhans, Derrick se pa, het aan Netwerk24 gesê sy seun het as ’n held gesterf.

Hy was altyd vol grappe.

“Hy sou homself benadeel om iemand in nood te help.”

Derrick se gedenkdiens word Vrydag op Rustenburg gehou.

Meer oor:  Vloedwater  |  Redding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.