Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kind gered: ‘Dit was instink,’ sê die held
Dishal Sooku sê sy jare van opleiding in gevegskunste het vlamgevat toe hy ’n man getakel het wat ’n kind by sy eetplek wou gryp. Foto: Deon Raath

’n Johannesburgse restauranteienaar sê 12 jaar se opleiding in Oosterse gevegskuns het instinktief vlamgevat toe ’n man ’n kind van een van sy klante probeer steel het.

Binne sekondes het Dishal Sooku die man in ’n wurggreep gehad en hy is gedwing om die kind te los. Die booswig is in hegtenis geneem en die kind is ongedeerd dog getraumatiseerd.

In kringtelevisie-beeldmateriaal van die voorval wat die afgelope paar dae vinniger as die koronavirus oor die internet versprei het, sit Sooku in die voorgrond saam met ’n man (sy pa) aan tafel terwyl hy op sy selfoon speel.

Die 38-jarige Sooku sê hy en sy pa het Donderdag op die stoep van sy nuwe eetplek (“ons het maar onlangs hier oorgeneem”) in Florida in die weste van Johannesburg gesit toe sy pa hom waarsku oor ’n man wat verdag optree.

“Ek het opgekyk en gesien die man kom met ’n spoed van anderkant die pad aangehardloop. Ek was nie bekommerd nie, maar was waaksaam.”

Toe die hardloper egter skielik swenk, van rigting verander en reguit op sy restaurant se stoep afstorm, het sy jare se opleiding in tradisionele en Brasiliaanse joejitsoe begin werk.

“Ek kon dadelik sien hy is op een van ons klante se twee kinders gefokus. Die eerste ding wat ek gedoen het, was om sy hande dop te hou toe hy die stoepreling gryp. As hy ’n versteekte wapen, soos ’n mes of ’n vuurwapen gehad het, sou hy net een hand gebruik het sodat die ander hand vry was vir die wapen,” sê Sooku.

Ek het dadelik geweet ek kan nie die kind uit die pad ruk nie, hy sal seerkry. Ek moes die aanvaller neutraliseer sonder dat die kind seerkry.

Hy sê daar was nie tyd om te dink nie.

“ ’n Vreemde man het op een van my klante afgestorm en ek het gereageer. My spesifieke vaardighede het gehelp, ek is nie die soort ou wat in so ’n situasie eerste my selfoon uitruk en foto’s neem nie. Ek reageer.”

Sy eerste gedagte was dat die verdagte iets wou steel.

“Ons bly in Johannesburg, ek is gebore en het grootgeword in Lenasia. Ek ken hierdie stad se streke. Ek het gedink hy wou ’n selfoon of ’n handsak steel, maar toe hy oor die reling spring, het hy reguit op die kind afgestorm,” sê Sooku.

Hy het opgespring en die man in wat hy noem ’n rear naked choke-greep gegryp en grond toe gestoei.

“Ek het dadelik geweet ek kan nie die kind uit die pad ruk nie, hy sal seerkry. Ek moes die aanvaller neutraliseer sonder dat die kind seerkry.

“Jy kan op die video sien ek kyk nie eens na die kind nie. My fokus was op die man. Ek het geweet as ek hom onder beheer kan kry, is die situasie onder beheer,” sê Sooku.

Die man gryp die kind. Regs is Dishal Sooku.
Dishal Sooku gryp die verdagte in ’n “rear naked choke”-greep.

Hy sê die kalm proses van sy gedagtes in die oomblik was die gevolg van sy jare se opleiding.

“Ek het natuurlik ’n bietjie adrenalien gehad, maar my gedagtes en optrede was deurentyd kristalhelder en kalm.”

Hy lag weer verleë.

“My vrou het ook ná die tyd gevra of ek enigsins ’n plan gehad het. Daar was nie ’n plan nie. Daar was ’n vreemdeling en ’n kind in gevaar. Ek moes reageer.”

Die sentrum waar sy eetplek geleë is (Sooku het Rapport gevra om weens veiligheidsredes nie sy eetplek of die sentrum se name te noem nie) se veiligheidswagte was vinnig by.

“Ek het die man vir omtrent 40 sekondes vasgehou, toe is die wagte by. Ek was baie beïndruk met hul reaksietyd,” sê Sooku.

In nog ’n video wat vermoedelik met ’n omstander se selfoon geneem is, lê die man op die grond terwyl hy om die beurt brabbel en in Arabies uitroep.

Sooku sê die ma en haar twee kinders was histeries van skok.

“Ons het hulle dadelik in die winkel ingeneem en water en goed gegee. My mense het hulle gekalmeer en mooi na hulle gekyk totdat haar man opgedaag het.”

Sooku sê die pa van die kind het “verstaanbaar boos opgedaag.

“Hy was reg om te baklei, soos enige pa in so ’n situasie, maar teen daardie tyd was daar baie veiligheidswagte op die toneel en het ons die situasie onder beheer gehad en hy kon glad nie by die verdagte uitkom nie,” sê Sooku.

Sedertdien was alles chaos. Ek kan nie eens naby my sosiale media kom nie.

Oor die verdagte, wie se naam aan Rapport bekend is, weet hy nie veel nie.

“Ek hoor maar by mense in die omgewing hy het vir drie maande verdwyn en dit was sy eerste verskyning. Hy het op die toneel vir mense gesê hy werk vir ’n sindikaat wat kinders ontvoer, maar iets sit nie reg daaraan nie.”

In die chaos het hy en die ouers van die kind nie nommers uitge­ruil nie. “Sedertdien was alles chaos. Ek kan nie eens naby my sosiale media kom nie. My Facebook is oorstroom van boodskappe van oor die hele land,” sê Sooku. Hy sê hy sal dit weer doen as dit nodig is.

“Ek is nie ’n held nie, ek het maar net gedoen wat ek sou hoop enige ander ou sal doen as my kind die een in gevaar is.”

Brig. Vish Naidoo, ’n polisiewoordvoerder, sê die verdagte verskyn môre in die hof.

“Hy word van aanranding aangekla, maar soos die ondersoek vorder kan nog aanklagte bygevoeg word,” sê Naidoo.

Meer oor:  Dishal Sooku  |  Johannesburg  |  Kind Gered  |  Restauranteienaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.