Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kind gekritiseer oor 'skelm ma' ná beplande Bobby-konsert misluk

Haar lewe is verwoes en haar negejarige kind gaan al vir langer as ’n week nie meer skool toe nie, omdat mense na sy klas gegaan het en gevra het waar sy “skelm ma” is.

Só sê Liezl Basson (40) van Bloemfontein wat ’n groep vroue ontstoke gelaat het nadat ’n geselligheid met Bobby van Jaarsveld en Jay du Plessis deur die mat geval het.

Die plakkaat van die oorspronklike vertoning. Die nommer waar besprekings gedoen kon word, is uitgeredigeer.

Sy het R300 per kaartjie gevra en R3 000 per tafel van tien, en mense wat betaal het, sukkel om hul geld terug te kry.

Sy het emosioneel gesê sy wil nie eens in dié stadium uit die huis gaan nie en dat haar kind nie tans skool toe gaan nie omdat hy onder kritiek deurloop.

Basson word veral op Facebook gekap. Vroue wat kaartjies gekoop het vir die vroue-aand met dié kunstenaars wat 24 April op die Monte Bello-landgoed buite Bloemfontein sou plaasvind, deel hul ervarings op die platform met mekaar.

Sommige kaartjiekopers vermoed onraad omdat die geleentheid tot 7 Junie uitgestel is.

Bedrog word beweer en ’n saak is teen Basson by die polisie ingedien.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van bedrog is op 10 Mei by die Navalsig-polisiekantoor ingedien.

Covane sê in dié dossier is vier of vyf onafhanklike verklarings vervat.

“Dis nie asof ek ’n fake geselligheid gereël het nie,” sê Basson. Die reëlings vir die geselligheid was getref, maar daar is bloot nie genoeg kaartjies verkoop om die koste te dek nie.

“Dit is nie ’n geval dat ek mense se geld steel nie. Al wat ek vir hulle gevra het is of ons dit net kan uitstel.”

Sy sê daar was aanvanklik groot belangstelling in die geleentheid – die meeste van die 80 tafels is bespreek. Uiteindelik is betalings vir 20 tafels ontvang. Al dié tafels was boonop nie uitverkoop nie. Die afsnydatum vir betaling was 8 April, maar sy het dit aangeskuif in die hoop dat meer mense sou betaal.

Sy het toe die vroue laat weet en gevra of die geleentheid uitgestel kan word, sodat meer bemarking gedoen kan word.

Liezl Basson Foto: Facebook/Liezl Basson

“Ek kan nie ’n geselligheid wat R250 000 kos, hou met die R54 000 wat met besprekings ingekom het nie.”

Sy het egter nie die vereiste deposito’s vir die kunstenaars en die landgoed betaal nie.

Sy het toe almal vir wie die nuwe datum nie sou pas nie, gevra om hul kaartjies terug te stuur, sodat sy dit weer kon verkoop en hul geld kon terugbesorg, vertel sy.

Die geld wat ingekom het, het sy solank gebruik om produkte aan te koop vir geskenkpakkies die aand.

Die res van die geld het sy vir plakkate, bemarking en petrol gebruik.

“Dis nie asof ek die geld op myself uitgegee het nie, asof ek spa toe gegaan het en besluit het ek gaan R20 000 op myself spandeer nie.”

Sy het nie nou die geld om mense terug te betaal nie. Sy sê sy het vir seker ’n fout gemaak om goed vooraf aan te koop, voordat sy voldoende geld gehad het om mense te kon terugbetaal, maar sy het nie so ’n lae opkoms voorsien nie.

Ek kan nie ’n geselligheid wat R250 000 kos, hou met die R54 000 wat met besprekings ingekom het nie.

Sy sê sy wou niemand bedrieg of geld steel nie.

Volgens Basson het sy al 18 mense terugbetaal. Ariska Weitsz is een van dié gaste wat aan Netwerk24 bevestig het sy het haar geld teruggekry nadat sy gedreig het om Basson hof toe te neem.

Basson sê daar is nog sowat tien tafels waarvan die gaste hul geld wil terughê. Sy sê die res van die kaartjiekopers wil nog die uitgestelde geleentheid bywoon.

Die geleentheid is egter nou onder so ’n donker wolk gehul dat dit moeilik is om dit verder te bemark.

Basson sê sy probeer nou net die geld kry om mense terug te betaal. Sy het dit al selfs oorweeg om haar motor te verkoop.

Danie Grobler, eienaar van die landgoed, het Basson se bespreking vir 7 Junie gekanselleer weens die “wesenlike kommer dat die vertoning glad nie gaan plaasvind nie en om geen verdere skade aan ons reputasie te ly nie”.

Die landgoed maak dit duidelik hulle sou slegs die diensverskaffer van die saal en etes wees wat deur Basson betaal sou word.

Ronel Brink en Corné Oosthuizen, die agente van onderskeidelik Van Jaarsveld en Du Plessis, het by navraag bevestig dat hulle nooit die verlangde deposito’s ontvang het nie en dat die kunstenaars beslis nie op 7 Junie sal optree nie. Basson het wel gereël om die konsert te skuif en die kunstenaars het ingestem, maar geen deposito is ontvang nie.

Monique Coetzee van Bloemfontein het aan Netwerk24 gesê die gaste word in die duister gehou oor wat aangaan. Haar telefoon- en WhatsApp-navrae word geïgnoreer. Daar is elke keer ’n ander verskoning oor hoekom die geld nie inbetaal is nie, sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.