Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kind in PE doodgeskok: Bobani beloof nou optrede
Ntombizanele Mdayi, Chuma se ma, het Woensdagmiddag hartseer na die vloer gestaar terwyl amptenare van die Nelson Mandelabaai-metro haar besoek het. Foto: Lulama Zenzile

Die Nelson Mandelabaai-metro het in die vorige boekjaar R430 miljoen verloor weens onwettige kragverbindings en kragmeters waaraan gepeuter is.

Die metro het onlangs aan Netwerk24 gesê onwettige kragverbindings het ongeveer R100 miljoen van dié totaal opgemaak.

Chuma Mdayi (8) is doodgeskok. Foto: Verskaf

’n Onwettige kragverbinding het die naweek die lewe van Chuma Mdayi (8) in die Winnie- informele nedersetting in Despatch geëis.

Netwerk24 het vroeër berig Chuma is Saterdagmiddag doodgeskok nadat hy blykbaar aan ’n oop draad gevat wat op die grond gelê het.

Volgens inwoners van die gebied was hierdie draad deel van die onwettige kragverbindings wat vanuit die nabygeleë Kingstown- informele nedersetting na plakkershutte in Winnie aangelê is.

Mongameli Bobani, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese in die metro, het Woensdagmiddag saam met Simphiwe Tyukana, plaaslike wyksraadslid, Chuma se gesin besoek en namens die metro jammer gesê vir wat die “boewe” aan die familie gedoen het.

“Ons medelye gaan uit na die familie wat ’n agtjarige kind verloor het.

“Ons is ook hier om verskoning te vra vir wat die boewe aan die familie gedoen het. As dié mense (boewe) nie hier was nie, sou die kind vandag nog geleef het.

“Omdat die elektrisiteit van die munisipaliteit af kom, neem ons die verantwoordelikheid en vra om verskoning,” het Bobani gesê.

In Bethelsdorp word pale skeefgetrek deur al die onwettige kragverbindings. Foto: Lulama Zenzile
My grootste vrees is dat ’n kind hier sal doodskok, want dan gaan die polisie by my aanklop en vra waar kom die drade vandaan.

Hy het ook ’n beroep op kalmte in die gebied gedoen en die gemeenskap gevra om nie die reg in eie hande te neem nie.

Die man wat na bewering die onwettige kragverbinding gemaak het waaraan Chuma gevat het, se plakkershut is reeds deur die gemeenskap afgebreek.

Liziwe Sibani, Chuma se ouma, het vroeër gesê om veiligheidsredes moet die metro al die onwettige kragverbindings in die gebied verwyder.

Bobani het Woensdagmiddag gesê ’n program vir kragtoevoer aan plakkershutte sou nog dieselfde dag begin het.

“Die (onwettige verbindings) sal verwyder word en nuwe kragdrade sal aangelê word, maar die gemeenskap moet saam met ons werk.

“Ons het reeds ’n begroting vir die wyk (41). My departement het goed rondgeskuif en gesê ons moet op die wyk fokus en hier begin.

“Ons wil vir die metro se inwoners sê ons gaan elektrisiteit aan al die plakkershutte verskaf. Die (onwettige kragdrade) sal uitgehaal word, en dit gaan nie lekker wees vir die inwoners nie, maar ons gaan dit vervang.”

Maar Winnie is nie die enigste gebied waar onwettige kragverbindings in die metro is nie.

Van die onwettige kragverbindings wat vanuit ’n substasie in Booysenspark by Auburnstraat aangelê is. Foto: Lulama Zenzile
Kinders speel met ’n bal etlike meters van ’n string onwettige kragverbindings in Bethelsdorp. Foto: Lulama Zenzile
Die elektriese diewe gaan nou op alle gebiede gestop word.

In Bethelsdorp hang onwettige kragverbindings soos spinnerakke aan pale, terwyl slote in teerpaaie by Motherwell gekap word om onwettige kragkabels oor die pad na plakkershutte aan te lê.

In Auburnstraat in Booysenspark vloei onwettige kragverbindings regstreeks uit ’n substasie oor Anthony Smith (67) se erf na plakkershutte in die Vastrap- informele nedersetting.

Volgens Smith word sy hele grasperk geëlektrifiseer wanneer dou en reën op die oop kragdrade op sy erf uitsak. “Ek kan geensins my huis verlaat wanneer dit reën nie, want ek skok sodra ek op die gras trap.”

Minstens twee beeste wat op sy erf gevreet het, is al doodgeskok.

Smith sê hy probeer al geruime tyd sy huis verkoop, maar kopers verloor onmiddellik belangstelling sodra hulle die kragkabels oor die erf sien.

Boonop word hy ook glo gedreig wanneer hy die drade wil afsny.

“Ek het self jare lank by die munisipaliteit gewerk. Ek weet hoe dit daar gaan. As ek bel kom kyk hulle en sê hulle kom terug, maar dit gebeur nie.

“My grootste vrees is dat ’n kind hier sal doodskok, want dan gaan die polisie by my aanklop en vra waar kom die drade vandaan.”

’n Teerpad in Motherwell is vol slote gekap waarin kragdrade vir onwettige verbindings gelê word. Foto: Lulama Zenzile

Bobani het Woensdag gesê sy departement is besig met ’n program om 60 wyke te besoek om diensleweringsuitdagings te ondersoek, wat ook die kragtoevoer vir plakkershutte insluit.

Benewens dié program, sal ’n intervensieprogram ook binnekort in werking tree teen mense wat met kragbokse peuter sodat hulle minder vir elektrisiteit betaal.

“Ons kan nie toelaat dat miljoene rande verlore gaan nie.

“Dit gaan ons nie meer as R20 miljoen kos om elektrisiteit na plakkershutte aan te lê nie.

“Maar dit is nie net plakkershutte wat steel nie, daar is ook groot fabrieke wat steel en in woonbuurte word ons kragmeters omseil.

“Die elektriese diewe gaan nou op alle gebiede gestop word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.