Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kind se dood lei tot hulp vir ander

Sowat twee jaar gelede sit twee mans op ’n bankie buite die pediatriese intensiewe sorgeenheid van die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad. Die een is uiters bevoorreg, die hoof van ’n maatskappy wat op die JSE genoteer is. Die ander so arm dat hy nie eens skoene aan het nie.

Fred en Melissa Platt praat oor die werk wat hulle doen om siek, minderbevoorregte kinders te help nadat hulle hul eie kind verloor het. Foto: Elizabeth Sejake

Maar op dié dag is hulle gelyk. Altwee se kinders is sterwend.

“Die dood maak almal gelyk”, sê Melissa Platt twee jaar later aan Rapport. Háár man, Fred, die bestuurshoof van die JSE-genoteerde Accentuate-groep, was een van die twee. Hul seuntjie, Sam, is met ’n skaars siektetoestand gebore en is ná sowat 15 maande dood.

Nadat Sam siek geword het, was hy vir meer as 13 maande in ’n duur private hospitaal in Johannesburg. In sy boek Lessons from a Rainbow Unicorn vertel Fred van die hartelose behandeling, gedryf deur gierigheid, wat hulle daar ontvang het.

Hulle het Sam na ’n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas, waar dit baie beter gegaan het. Sam het ’n prosedure ondergaan wat hom in staat gestel het om sonder ’n ventilator asem te haal. Hy kon rondrol en met hulp sit.

Hulle het geweet Sam is spesiaal.

Fred en Melissa is na die Rooi Kruis-hospitaal om te gaan leer hoe om hom te versorg wanneer hy huis toe gaan.

Tydens een van sy besoeke aan dié hospitaal het Fred gehoor het hoe ’n siek, sewejarige pasiëntjie die suster vra vir selfoondata.

Hy het navraag gedoen en gehoor die seuntjie kom van die Oos-Kaap. Sy ouma wat hom versorg het, is dood terwyl hy in die hospitaal was.

Sy enigste familie was ’n oom in die Oos-Kaap en hy het data nodig om met die oom kontak te hou, het die suster verduidelik.

Later het iemand wat die Platts ken, betaal dat die oom vir ’n naweek Kaapstad toe kon kom om die seuntjie te besoek. Teen die Sondag het die hospitaal gevra of die oom nog ’n dag kon bly. Danksy die skenking was die oom by toe die kind die volgende dag dood is.

Intussen het Sam ’n terugslag gehad. Hy is na die Rooi Kruis-hospitaal oorgeplaas vir dialise nadat hy sepsis opgedoen het. ’n Week later is hy dood.

Maar in dié tyd het die Platts die geweldige nood gesien van arm families met siek kinders.

Fred Platt by sy seuntjie Sam in die hospitaal.

Die tyd onmiddellik ná hul eie Sam se dood was verskriklik, sê Fred. Maar mettertyd het hy en Melissa begin werk aan Sam se nalatenskap.

Hulle het die Footprints4Sam-trust geskep wat ’n nuwe benadering tot die behandeling van kinders met lewensbeperkende toestande bepleit sowel as ondersteuning bied aan hul families.

Melissa het ’n nagraadse kursus in palliatiewe versorging by die Universiteit van Kaapstad gedoen. Sy werk sedertdien saam met twee groot hospitaalgroepe om te verseker dat die versorging van chroniese siek kinders pasiëntgerig is en dat die families betrek word. Sy en Fred spreek gereeld gesondheidswerkers en mediese studente toe oor die onderwerp.

Die trust het ook met die hulp van die motorverhuringsgroep Hertz en die organisasie Paedspal ’n bussie beskikbaar gestel om familielede te help om by hul siek kinders te kom. Hulle noem dit die Sam-superheld-bussie.

Hulle vertel van ’n plaaswerker-pa wat 30 km van Swellendam af geryloop het om by sy kind met nierversaking in die hospitaal in Kaapstad te kom. Daar was net plek vir die ma in die ambulans wat die kind kom oplaai het en die pa het nie geld vir ’n taxi gehad nie.

Danksy Sam se bussie sal talle siek kinders in Kaapstad voortaan nie meer alleen hoef te wees tydens hul siekte of sterfte omdat hul ouers nie busgeld het nie.

Wetende dat chroniese siek kinders soms ontslaan word na ’n huis waar daar nie kos en basiese toiletware is nie, voorsien die trust ook houers met “kos, sorg en liefde”. Checkers pak die koshouers vir Footprints4Sam vol niebederfbare produkte en bederfies soos sagte speelgoed. Triton Express lewer dit af.

“O, die vreugde van ’n kind oor ’n buisie tandepasta . . .” sê Melissa.

Die trust werk nou daaraan om WiFi geïnstalleer te kry in die kindersale van staatshospitale sodat die kinders kan kontak hou met hul families. Hulle rig ook mooi ruimtes in die hospitale in waar mense direk ná ’n kind se dood alleen kan wees om hulle waardigheid te gee in hul hartseerste oomblikke, sê Fred. Nog ’n projek is om te verseker dat daar herinneringe is soos afdrukke van die kinders se handjies of voetjies.

“Toe Sam gebore is, het ons geweet daar is iets baie spesiaal aan die seuntjie,” sê Fred. “Daar is ’n doel met sy lewe en hy gaan ’n verskil maak.”

En dit doen hy steeds. Sam was net 15 en ’n half maande op aarde, maar trap steeds diep spore en maak die wêreld ’n beter plek.

Meer oor:  Melissa Platt  |  Fred Platt  |  Baba  |  Tragedie  |  Footprints4sam-Trust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.