Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kind sterf ná kobra haar pik

Kaapstad. – ’n Egpaar van ’n plaas buite Beaufort-Wes het die naweek hul enigste kind verloor nadat ’n slang haar gepik het.

Willie Esterhuizen en sy vrou, Karin, se dogtertjie, Karlien (2), is Sondagmiddag in haar ouers se bed op hul plaas Rivierplaas deur ’n Kaapse kobra gepik.

Willie, Karin en Karlien Esterhuizen op hul plaas, Rivierplaas, buite Beaufort-Wes. Foto’s: Verskaf

Esterhuizen het gister aan Die Burger gesê hy, sy vrou en Karlien het die middag saam in die hoofslaapkamer geslaap.

“Omstreeks 15:00 het ek opgestaan en televisie gaan kyk. Net voor 16:00 het ek vir Karlien hoor huil en my vrou het hard gegil. Ek het onmiddellik na die slaapkamer gehardloop.”

’n Slang het teen die bed opgeseil en vir Karlien op haar hand, tussen haar duim en wysvinger, gepik.

Esterhuizen het die slang doodgemaak en uit die huis gekry om te probeer bepaal watter soort slang dit is sodat die dokters vir Karlien die nodige hulp kon gee.

“Ons het daarna in die bakkie geklim en Beaufort-Wes toe gejaag. Op pad daarheen het ons die dokter en ambulansdienste gekontak sodat hulle by die hospitaal gereed kon wees. Ons bly egter ver en ongeveer 20 tot 30 km voor die dorp kon ons sien sy word pap en blou om die mond,” het Esterhuizen gesê.

Die Esterhuizens se plaas is ongeveer 65 km van Beaufort- Wes. Dié dorp is die naaste dorp met ’n hospitaal en dokters.

Volgens hom was Karlien se lyfie eenvoudig net te klein vir die hoeveelheid gif wat die slang gehad het.

By die hospitaal het die dokter en hospitaalpersoneel vir hulle gewag, maar Karlien was reeds dood.

Karlien Esterhuizen (2) is Sondagmiddag oorlede nadat ’n Kaapse kobra haar gepik het.

Karlien was hul alles en ’n lieflike kind.

“Ons gaan haar baie mis. Ons mis haar reeds baie.”

Twee van Esterhuizen se kollegas het gister aan Die Burger gesê die gemeenskap is in rou gedompel ná die voorval.

Esterhuizen is die streekbestuurder van Agri Wes-Kaap in Beaufort-Wes.

Déan Gouws, bestuurder van Agri Sentraal-Karoo in Beaufort-Wes, het gistergesê Esterhuizen het hom Sondagmiddag gebel en in ’n baie moeilike gesprek vir hom van die tragedie vertel.

“Willie was gister baie hartseer, wat te verstane is. Hulle gaan deur ’n baie moeilike tyd en ons almal dink aan hulle.

“Dit is vir ons by Agri Wes-Kaap ’n baie hartseer tragedie. Ons rou saam met hulle,” het Jeanne Boshoff, woordvoerder van Agri Wes-Kaap, gesê.

Esterhuizen se raad aan mense ná die voorval is dat hulle hulself moet opskerp oor verskillende tipes slange en watter giftig is.

  • ’n Diens vir Karlien word Saterdag op Rivierplaas gehou.
Hoe help jy as ’n Kaapse kobra iemand pik?

’n Kaapse kobra, ook bekend as geelslang of bruinkapel, kan binne 30 minute iemand se dood veroorsaak.

Die gif is neurotoksies en tas die senuweestelsel aan. Dit lei tot spierverlamming en asemhalingsprobleme.

Indien een iemand pik, gaan dadelik na die hospitaal en bel vooruit. Dra die persoon wat gepik is, moenie dat hy loop nie en beperk beweging tot die minimum.

  • Laat die persoon plat lê, met die ledemaat of plek waar hy/sy gepik is, altyd laer as die hart. Draai ’n verband (stuk materiaal) om die bytplek, redelik styf teen die ledemaat op, maar nié so dat die bloedsomloop afgesny word nie, net soos vir ’n verswikte enkel.

Hou die bytplek en pasiënt bewegingloos, terwyl die ledemaat met enigiets gespalk word. Hou dit in die spalk, bewegingloos tot by die hospitaal.

  • Moet nooit die volgende doen nie (dit werk nie en rig net meer skade aan): Dit is ’n mite dat ’n elektriese skok werk; moet nooit die wond sny en die gif probeer uitsuig nie; moet nooit ’n toerniket gebruik of die suurstof afsny nie; en moenie ys, hitte, of salf op die wond sit nie. Moenie teengif of enige medikasie toedien tensy jy opgelei is nie.
  • Groot hoeveelhede teengif is nodig vir die behandeling van die byt en selfs dan kan dit dodelik wees, net soos in die geval van die byt van die swartmamba, volgens ’n kliniese inligtingstuk oor die toksikologie van die geelslang.
  • Indien daar bosse om jou huis is, raak ontslae daarvan, of hou dit baie skoon.
  • Moenie gemors om jou huis opgaar soos kratte, pype, of enigiets waarin slange se prooi kan wegkruip nie.
  • - Elsabé Brits
    Meer oor:  Beaufort-Wes  |  Kaapse Kobra
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.