Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kinderhuis baat by tog vir Chapmanspiek-slagoffer

Die Herberg-kinderhuis in Robertson in die Wes-Kaap het ’n hupstoot van minstens R50 000 gekry danksy ’n geldinsamelingsprojek ter nagedagtenis aan Jolandi le Roux, wat op 2 Desember 2018 op haar 31ste verjaardag gesterf het toe sy van Chapmanspiek se uitkykpunt afgeval het.

Deelnemers aan die CA2CX MTB-fietstoer Vrydag in George. Voor van links is Hein Venter, Owen Wittridge, Johann Opperman, Ernst Simon, Lee Smith, Creg Corbett en Nick Zagrafos. Agter is Danie en Hilda Enslin, Johan Janecke, Ivan Maloney, Jens en Ulf Hitzerof, Ernest Vermeulen en Marius du Preez. Foto: Jackie Kruger

Haar stiefpa, Ernest Vermeulen, was een van die deelnemers aan die CA2CX MTB-fietstoer, wat van 16 tot 21 Junie ten bate van die kinderhuis gehou is. Die fietsryers het Vrydag in George op hul laaste skof na Knysna weggespring.

Petro Uren, die kinderhuis se woordvoerder, sê 20 fietsryers het vanjaar aan die fietstoer deelgeneem en R222 000 is (bo en behalwe die geldinsamelingsprojek ter nagedagtenis aan Le Roux) ingesamel. “Ons is ontsettend dankbaar vir almal se bydraes en hulp.”

Jolandi se ma, Sonja de Villiers, skryf op die webtuiste BackaBuddy dat haar dogter gedurende vakansies welsynwerk gedoen het en op uitreikaksies saam met Jabulani Africa Ministries was. “Sy het ’n vol lewe gelei, was lief daarvoor om te gee en minderbevoorregte kinders te help,” skryf sy onder meer.

Volgens haar ma het haar dogter gesterf toe sy vir ’n verjaardagfoto die lug in opgespring het en na benede geval het.

Jolandi le Roux. Foto: Verskaf

Haar ma skryf sy was ’n begaafde atleet wat sedert sy tien jaar oud was provinsiale atletiekkleure gekry het. Sy het talle jong atlete onder haar vlerk geneem. Ten tyde van haar dood het sy reeds duisende jong mense bereik.

Haar ma skryf dat Jolandi se familie haar drome wil volg deur minderbevoorregte kinders te help om ’n sukses van hul lewens te maak. Die familie het op die Herberg-kinderhuis besluit omdat haar geliefde oupa, Willie du Toit (84), as kind ’n inwoner van die kinderhuis was.

Haar stiefpa het vanjaar sy deelname aan die CA2CX aan haar opgedra. “Sy was die een wat hom aangemoedig het om agt jaar gelede die eerste keer deel te neem. Sy het sy vordering elke dag, elke jaar dopgehou,” skryf haar ma.

Uren sê die fietsryers het die fietstoer in goeie weersomstandighede voltooi. “Ons het gelukkig onder die kouefront uitgery.”

Die fietstoer vind elke jaar in Junie plaas en strek oor 695 km. Dit begin in Worcester en eindig in Knysna.

Besoek die BackaBuddy webwerf of die CA2CX MTB-fietstoer se Facebookblad vir meer inligting.

Meer oor:  Chapmanspiek  |  Wes-Kaap  |  Robertson  |  Fietstoer  |  Ongeluk  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.