Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kinderhuis se inwonertjies kry heerlike verrassing

Dis nie aldag dat ’n konvooi motorfietse vroegoggend die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom se werf binnery en die jong inwonertjies vóór middagete op roomys getrakteer word nie. Boonop het twee perde ook hul opwagting gemaak.

Dít was alles gedoen om die kinders wat nie vir die vakansie na hul families kon gaan of na ander mense uitgeplaas is nie te bederf.

Bees Fourie, nasionale leier van die Bikers Againts Bullies South Africa-saamryklub (BABSA), en sowat 21 lede van motorfietsklubs in die Wes-Rand, Potchefstroom en Vanderbijlpark het Sondag na die kinderhuis opgeruk.

Bees Fourie, nasionale leier van die Bikers Against Bullies South Africa-saamryklub, met twee van die kinderhuismeisies wat nie kon wag om saam met hom op sy Harley Davidson te sit nie. Foto: Susan Cilliers
Lara Christie (regs) en haar dogter, Anushka le Roux, met die wenperd Shaheen. Shaheen beteken “koninklike wit arend” in Arabies.Foto: Susan Cilliers
Bees Fourie, leier van die Bikers Against Bullies South-Africa-saamrybklub, praat Sondag met die kinders voordat hul dag vol pret begin.Foto: Susan Cilliers

Gas Monkey van Vanderbijlpark het die kinders se kos en lekkernye vir die dag geborg. Net nadat die motorfietsryers opgedaag het, het die kinders elkeen ’n roomys gekry.

Daarna het Marius Hills, ’n jeugprediker van die Bikers Church aan die Wes-Rand, met hulle gepraat en ’n gebed gedoen.

“Julle is fantasties en ’n seën, moet nooit dat enigiemand vir julle iets anders vertel nie. Ons is almal kleipotte wat maklik kan breek, maar nie solank God by ons is nie.”

Lara Christie van Kammaland in Randfontein het die perde gebring waarop die kinders kon ry.

“Ons is nie bang nie, ons wil almal ry,” het van die kinders opgewonde gesê toe die bruin en wit hingste nader gebring is.

Die kinders het sommer al vroegoggend aan die roomyse gesmul.Foto: Susan Cilliers
Bees Fourie (heel links), leier van die Bikers Against Bullies South Africa-saamryklub, en die ander motorfietsryers wat die kinderhuis Sondag in Potchefstroom besoek het.Foto: Susan Cilliers
Bees Fourie, leier van die Bikers Against Bullies South Africa-saamryklub, kom Sondagoggend op sy Harley Davidson by die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom aan. Foto: Susan Cilliers
Die bederfdag vir kinders is met gebed geopen. Foto: Susan Cilliers
Lara Christie (regs) van Kammaland in Randfontein en haar dogter, Anushka le Roux, met die perde. Hulle het ’n storie vertel van Shaheen (die wit perd). Foto: Susan Cilliers

Die kinders het aan Christie se lippe gehang terwyl sy hulle vertel het dat die wit perd, Shaheen, besonder klein was nadat hy gebore is. Hy is geskop en geboelie, maar Christie het hom begin oefen en hy het later kompetisies gewen. “Shaheen het al hoe meer sy beentjies begin lig en sy bors uitgesteek om te wys dat hy ’n wenner is. Hy moes hard werk om sy drome te bewaarheid. Hy het nooit gedink hy is nie die moeite werd omdat hy klein is nie.”

Ciska Grimbeek, ’n kinderversorger by die kinderhuis, het al verlede jaar besluit om die BABSA-saamryklub na die kinderhuis te nooi. “Die kinders moet leer jy mag nee sê vir boelies, en boelies met leer om op te hou.”

Christie Saayman, bestuurder: kindersorg by die kinderhuis, sê hulle probeer hul bes om die kinders vir vakansies uitgeplaas te kry nadat streng keuring gedoen is. Maar daar is altyd kinders wat hele vakansies agterbly.

“Altesaam 40 van ons 230 kinders bly hierdie vakansie in die kinderhuis. Dit is vir hulle sleg om agter te bly.”

Builders Buyer aan die Wes-Rand was ook een van die borge wat die dag moontlik gemaak het.

Meer oor:  Motorfietse  |  Kinderhuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.