Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kinderogies blink oor korona-boekie
Dr. Wessel Vermeulen met sy kinderboek.

’n Huisdokter van Oudtshoorn het nooit gedink die kinderboekie wat hy ’n paar maande gelede “sommer in 12 minute tussendeur pasiënte sien” vir sy kleindogter geskryf het, sou soveel aftrek kry nie.

Dr. Wessel Vermeulen (68), wat al 40 jaar as huisarts in die Klein-Karoo praktiseer, sê sy agtjarige kleindogter Marley se gebedjie een aand voor slaaptyd het hom geïnspireer om die boekie te skryf.

“Sy het gebid en gesê Liewe Jesus moet nou kom, want ons is besig om die game te verloor (teen die virus). En sy het gebid vir haar sussie Sadie (11) se verjaardagpartytjie, wat sy gemis het.

“Toe sê sy: ‘Liewe Jesus, as daar ander kinders in die hemel is wat verjaar, moet jy maar daar vir hulle ’n partytjie hou.’ ”

Hy het besluit om die boekie vir haar te skryf om haar ’n bietjie moed in te praat en te wys hierdie virus kan oorwin word.

Kinders visualiseer die virus as ’n verskriklike ding, sê hy.

“Ek het sommer op ’n folio geskryf tussen pasiënte en toe gaan lees ek die aand vir hulle oor die stoute ou Korona, wat soos ’n jakkals hier rondstap tussen die mense en sy stert so swaai en hulle lê soos hulle lag.

“Toe besef ek dié ding tref.”

Sy buurvrou Ronéll Lareman het gehelp om die prettige, kleurryke illustrasies en uitleg van die boekie te doen en hy het 500 eksemplare by Turksvy Publikasies in Mosselbaai laat druk. Hy het dit in ook in Engels laat vertaal.

“Ek het dit sommerso op Facebook geadverteer en toe ek weer sien, is al 500 weg nog voordat hulle gedruk is.”

Twee skole in Oudtshoorn verkoop die boekies en die opbrengs word aan twee plaaslike ouetehuise geskenk. Die Laerskool Wesbank skenk sy inkomste aan die Helen Bellinganhof-tehuis vir bejaardes en die Hoërskool Oudtshoorn skenk sy inkomste aan die Coronation Memorial-versorgingsoord.

Vermeulen sê die oplaag trek nou al by 4 500 en dit lyk nog nie of die vraag taan nie. Pediaters wat aan die SA Mediese Vereniging (waarvan Vermeulen ’n bestuurslid is) behoort, deel dit ook in kindersale in hospitale uit.

In die boekie, wat ook in Xhosa vertaal word, vertel Vermeulen hoe die nare Korona hom met ’n kroon, ’n donkerbril en ’n ou jas vermom en dit maak van dié virus ’n mutasie. Die storie gaan verder: “Dit gaan nie lank neem voordat ons medisyne teen Corona het nie. Dan slaan ons hom sommer poegaai. Dan kan julle lekker lag as hy tjank-tjank met sy stert tussen sy bene en ’n skewe kroon die hasepad kies.”

Vermeulen verskaf die boekie kosteloos aan die skole wat dit verkoop.

“Ek sien dit maar as my kerkgeld.

“Ek moet sê, ek is heel trots op hoe die ding uitgedraai het. Ek is trots om die kinders se blink ogies te sien wanneer hulle die boekie lees.”

Meer oor:  Dr. Wessel Vermeulen  |  Oudtshoorn  |  Huisdokter  |  Kinderboek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.