Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kinders byeen nadat ouers van krans afry

Die egpaar wat die afgelope week in hul bakkie by ’n krans in die Naudésnek-pas afgetuimel het, se kinders sal Donderdagaand bymekaarkom om te probeer sin maak van die gebeure.

Louis Coetzer (71), een van die grootste motorversamelaars in die land, en sy vrou, Hermien, het Dinsdagmiddag by dié Oos-Kaapse bergpas, tussen Rhodes en Maclear, verongeluk.

Die oomblik voordat hul Toyota-bakkie by ’n krans afgetuimel het, is op video vasgevang deur vriende wat agter hulle gery het.

Hoewel die egpaar in Bloemfontein gewoon het, het hulle jare lank die Oos-Kaap hul tuiste genoem en besit hulle grond in Barkly-Oos.

Volgens Jaco Matthysen, ’n skoonseun van die egpaar, sal die egpaar se twee dogters en seun eers Donderdagaand bymekaar kan kom ná die ongeluk, waarna hulle verdere reëlings sal bespreek.

“Tans is daar nog geen amptelike (begrafnis)reëlings of planne nie.

“Al wat ons in dié stadium kan sê, is baie dankie vir die ongelooflike ondersteuning wat ons ontvang. Hulle was besonderse mense en ons besef dit,” het Matthysen Donderdag namens die familie gesê.

Louis en Hermien Coetzer. Foto: Verskaf

Netwerk24 het vroeër berig dat Nic Meyer, ’n goeie vriend, gesê het hy vermoed dat Louis ’n hartaanval of breinfloute gehad het kort voordat die bakkie by die krans afgestort het.

Trygve Roberts, stigter van Mountain Passes of South Africa, het Donderdag dié vermoede bevestig en verduidelik dat die Naudésnek-pas nie ’n gevaarlike pas is nie.

Roberts, wat dié 32 km lange pas gereeld aanpak, sê die toestand van die pad is tans redelik goed, veral nadat die pad sowat ses maande gelede opgeknap is.

“Maar dit bly steeds ’n bergpas, met skerp draaie hier en daar.”

Die pas is op sy hoogste 2 690 m bo seespieël, met redelike steil afdraande aan die oostekant, maar die moeilikheidsgraad word volgens Roberts in die 4x4-kringe as ’n een óf twee uit vyf beskou.

“Die pas kan met ’n gewone voertuig, wat nie te veel grondvryhoogte het nie, gery word. Eintlik kan dit met ’n Hyundai i20 gery word. Maar daar moet by die snelheidsperke gehou word en dit moet verantwoordelik aangepak word.”

Die Naudésnek-pas wat tussen Rhodes en Maclear in die Oos-Kaap geleë is. Foto: Warren de Jager/MountainPassesSouthAfrica.co.za

Roberts, wat ook die Naudésnek-pas die afgelope week in gunstige weertoestande gery het, sê hy het nie vir Louis geken nie, maar kan aanneem uit wat hy lees die man het ’n klomp jare se ervaring op 4x4-roetes. “Daar is niks wat aandui dat die toestand van die pad die oorsaak van die ongeluk is nie. Die kans is groot dat dit dalk ’n hartaanval of so iets was.”

Benewens die prentjiemooi uitsigte wat dié afgeleë pas bied, het die Naudésnek-pas ook gewildheid verwerf nadat dit by die Ben 10 Eco Challenge ingesluit is.

Dié 4x4-uitdaging, wat begin is om afgeleë dorpe se sakelui ’n hupstoot te gee, sluit tien passe in wat binne sewe dae gery moet word, met die Ben MacDhui-pas in die Oos-Kaap wat op 3 001 m bo seespieël die hoogste piek het.

Volgens Roberts is die Naudésnek-pas een van die uitdaging se makliker passe om te ry.

Meer oor:  Louis Coetzer  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.