Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kinders: Derick se hart gebreek

Hy het sy twee seuntjies in Desember laas gesien. “Dit breek my,” sê Derick Hougaard en tuur in die verte.

Derick Hougaard het nie net sy lang lokke gegroet nie. Hy spog ook met ’n dikker bos hare te danke aan behandeling van Advanced Hair Studio vir wie hy ’n ambassadeur is. Hy sê hy is klaar met nonsens en wil net vorentoe kyk. Foto: Elizabeth Sejake

Boonop het sy eksvrou, Karlien van Jaarsveld, hom onlangs weer gedagvaar.

Volgens Kobus van Niekerk, Van Jaarsveld se prokureur, is dit die begin van ’n proses om ’n kurator aan te stel om na die belange van hul tweelingseuntjies om te sien.

“Dis basies om die kinders te beskerm. Afhangend van hoe dit gaan, kan so iets geldig wees vir ’n paar maande of ’n paar jaar,” sê Van Niekerk.

Dis vir Derick ’n bitter pil om te sluk. Hy sukkel finansieel en kan nie nog regskoste aangaan nie. Hy het tans per foon kontak met sy seuns en wil ook vir hulle net die beste hê.

Jy moet help waar bevordering nodig is.

Die huidige hofgeveg volg ná ’n insident in Desember waar Hougaard volgens Van Jaarsveld dronk was terwyl die kinders by hom was.

Intussen herbou Hougaard aan sy eie lewe, en ’n deel daarvan is sy nuwe, dikker haredos waarmee hy spog danksy behandeling van Advanced Hair Studio.

Die lang slierte in sy nek is weg, sy hare is dikker en hy het ook ’n paar kilo’s verloor.

“Joost (van der Westhuizen) het altyd vir my gesê ‘it’s all about the man in the mirror’. Jy moet daardie ou wat vir jou terugkyk aanvaar en respekteer,” sê Derick.

“Ek is op pad na daardie punt en werk hard om daar te kom.”

Voor die oorplanting. Foto verskaf

Hy sê die geleentheid om ’n ambassadeur te word vir Advanced Hair Studio kon nie op ’n beter tyd kom nie. Hy het daarvan gehoor by sy vriend die oud-Protea-krieketspeler Jacques Kallis wat ook jare gelede die behandeling gekry het en steeds spog met ’n vol haredos.

Derick reken hy kan met sy bemarkingswerk vir Advanced Hair Studio Suid-Afrikaanse mans leer dit is oukei om aandag te gee aan jou voorkoms en om beter te wil lyk.

“Suid-Afrikaanse mans dink hulle moet oorkom as macho en sterk, en skuif mans uit wat nie in daardie boksie pas nie.”

Dis nie oral so nie, sê hy. In sy rugbydae was hy in kleedkamers oorsee “waar die ouens rondloop met pienk G-strings”.

“Kan jy jou voorstel dat jy so iets in die Blou Bulle se kleedkamer sal sien?” vra hy en lag.

“Die ou sal nooit herstel van al die kommentaar nie.”

Hy het in April in Londen ’n operasie ondergaan waarin haarwortels uitgehaal is aan sy agterkop naby die onderste haarlyn waar mans selde hare verloor en ingeplant is waar die haarverlies erg is.

“Dit was nogal seer, maar glad nie so erg nie. Vir twee weke daarna mag jy glad nie jou gesig trek nie en moet ook op ’n spesiale kussing slaap,” fluister hy.

“Vir ses maande daarna moet jy ook bestralings kry om die groeiproses van die nuwe hare te stimuleer,” sê hy.

Dit is sover ’n goeie belewenis en die nuwe hare het ook vir hom simbolies geraak van sy eie groei. Nadat hy gesukkel het met ’n pynpilverslawing en ook te veel gedrink het, is hy nou ontslae van daardie “krukke” en het besef dat hy moet staatmaak op sy eie krag en God se genade.

“Ek het ook weer begin om bietjie rugby af te rig by ’n swart skool naby Krugersdorp. Al het ek geld nodig, doen ek dit sonder om betaal te word.

“Dit help nie jy rig kinders af in spogskole wat reeds soveel geleenthede het nie. Jy moet help waar bevordering nodig is.

“En ek weet waarvan ek praat. Ek het grootgeword in Piketberg in die Swartland en as dit nie vir mense was wat my gehelp het nie, sou ek nooit vir die Bulle en die Bokke kon uitdraf nie.

“Ek wil graag meer afrig en so terugploeg,” sê Derick.

  • 'n Oorspronklike weergawe van die berig het verwys na Piketberg in die Noord-Kaap. Piketberg is wel in die Wes-Kaap en die fout is reggestel.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.