Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kinders in kinderhuise sukkel met pandemie
Kinders van die SA Kinderhuis hou hulself besig. Foto: Verskaf

Navorsing toon sommige kinders wat nie in ’n kinderhuis woon nie, die voordeel het dat hul ouers en familielede vir hulle positiewe strategieë kan uitwerk om die pandemie te hanteer. Dis vir kinders in kinderhuise egter nie so maklik nie.

Die SA Kinderhuis in Tuine, Kaapstad, het 44 kinders en alle kontak en aktiwiteite met besoekers word nou streng gereguleer.

“Dinge wat die meeste kinders as vanselfsprekend aanvaar, is belangrik vir dié kinders en speel ’n belangrike rol in hul welstand. Die kansellering van besoeke en die sluiting van skole weens die pandemie het meegebring dat die kinders tot die beperkte ruimte van die kinderhuis ingehok word,” lui die verklaring.

’n 17-jarige meisie van die kinderhuis sê sy was ontsteld en teleurgesteld toe aan hulle verduidelik is dat hulle nie kan uitgaan, huis toe gaan, hul vriende kan sien en ook nie meer skool toe kan gaan nie.

Volgens haar het sy reeds ook aktiwiteite en gesinsgeleenthede misgeloop, wat ’n groot impak op haar het.

’n Tienjarige seun sê omdat hy nie sy familie kan sien nie is vir hom baie sleg.

Dawie Marais, waarnemende hoofbestuurder van die SA Kinderhuis, sê die kinders het almal verskillend op die nuus gereageer. Sommige kinders was hartseer en teleurgesteld, terwyl ander ontsteld en ongelukkig was.

“Aan die begin was die kinders, soos ons almal, in skok. Sommige was bang, en ander het kwaad en gefrustreerd geraak. Die personeel moes geduldig aanhou verduidelik wat aangaan en hulle gerusstel dat dit nie net met hulle gebeur nie, maar dat die hele wêreld geraak word. Ons moes aan hulle verduidelik dat die regulasies nie enige besoeke of uitstappies toelaat nie.”

Kinders van die SA Kinderhuis pak ’n legkaart om besig te bly. Foto: Verskaf

Vasti de Villiers, ’n maatskaplike werker van die kinderhuis, sê dit help as die kinders na pres. Cyril Ramaphosa luister wanneer hy die nasie toespreek.

“Hulle het ook daarvan bewus geword dat hulle hulself en ander moet beskerm om tydens die pandemie veilig te wees. Ons het ’n program vir elke afdeling van die kinderhuis uitgewerk waar die kinders vir ’n uur lank alle oppervlakke moet ontsmet. Spesiale reëlings is getref waar die kinders drie keer per week telefoongesprekke met hul geliefdes kan hê.”

Volgens die verklaring was baie van die kinders angstig om tuisonderrig te ontvang en vir baie was dit uitdagend.

’n Tienjarige seun sê dit was baie ontstellend.

“Die manier waarop die werk by die skool aangebied word, is anders as hier. Ek het genoeg skoolwerk om besig te bly, maar ek wil weer op dreef kom. Ek is opgewonde om in Augustus weer terug te gaan skool toe.”

Foezaile Booysen, senior kinderversorger, sê soos wat die inperkingsmaatreëls verslap is, het hulle die kinders ’n bietjie uitgeneem om te draf en oefeninge te doen. Die oefeninge hou hulle aktief en laat hulle toe om van hul oortollige energie ontslae te raak.

“Die kinders van die kinderhuis het egter geleer om aan te pas en het nuwe verhoudinge en hegter bande met mekaar gevorm,” lui die verklaring.

Meer oor:  Koronavirus  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.