Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kinders kan vervolg word oor seksklets - kenner
Emma Sadleir, ’n mediaregkenner wat in sosiale-mediaplatforms spesialiseer. Foto: Marita Herselman

Wanneer kinders pornografie vir hul maats wys of aanstuur, selfs al vra die maats daarvoor, kan hulle strafregtelik aangekla word.

Die kind wat dit ontvang, is dan ’n slagoffer van ’n seksuele oortreding, sê Emma Sadleir, ’n mediaregkenner wat in sosiale-mediaplatforms spesialiseer.

Sadleir het vandeesweek by skole in Bloemfontein oor sosiale-mediaplatforms gepraat. Sy het onder meer die gevare en wetlike implikasies vir kinders bespreek.

Kragtens die Wet op Seksuele Misdrywe is dit ’n strafregtelike oortreding om pornografie vir iemand onder die ouderdom van 18 te wys of aan te stuur, sê Sadleir. Kinders kan van 14-jarige ouderdom af ten volle vervolg word, sê sy. Tussen die ouderdom van 10 en 14 moet voor vervolging eers bepaal word of die kind die verskil tussen reg en verkeerd ken en die gevolge van sy op haar aksies verstaan.

Die Film- en Publikasieraad (FPR) sê minderjariges wat materiaal van ’n seksuele aard van hulself neem of opneem, skep kinderpornografie.

“En as die skool, familie of enigiemand met gesag oor die kind kennis dra dat hy of sy ’n seksuele oortreding begaan het, is dit hul plig om dit by die polisie aan te meld.” Andersins is dit ’n strafregtelike oortreding.

Die Film- en Publikasieraad (FPR) sê minderjariges wat materiaal van ’n seksuele aard van hulself neem of opneem, skep kinderpornografie, sê sy. As dit aangestuur word, is dit verspreiding van kinderpornografie.

Sadleir sê sy het voorleggings vir die Wysigingswet op Film en Publikasies en die Wet op Kubermisdaad ingedien om seksklets tussen tieners wat met wedersydse instemming plaasvind, te wettig, sodat die regte mense verantwoordbaar gehou word.

As die polisie nou genader word oor ’n kaalfoto of -video van ’n minderjarige wat versprei word, sal die persoon wat die video aangestuur het, in hegtenis geneem word, asook die een wat die inhoud van hom- of haarself geskep het, omdat dit as die skepping van kinderpornografie geag word.

“Ek dink dit is slagoffer-blamering in sy ergste vorm.”

Kinders kan ook reeds van sewejarige ouderdom vir byvoorbeeld laster gedagvaar word.

Sy sê ’n bron van kommer is dat almal vandag “uitgewers” geword het.

“Sodra een mens die inhoud gesien het, is dit in die oë van die wet gepubliseer en skop al die wette in.”

Sadleir sê dieselfde wette wat die uitsaai- en drukmedia geld, geld ook byvoorbeeld dit wat iemand aan drie mense op ’n WhatsApp-groep sê, op Facebook vir 500 mense en op Twitter vir 50 000 mense. Daarom is dit belangrik dat kinders ingelig is oor wat as strafregtelike oortredings, soos crimen injuria, geag word.

Kinders kan ook reeds van sewejarige ouderdom vir byvoorbeeld laster gedagvaar word.

“Digitale inhoud is gevaarlike inhoud – wanneer inhoud digitaal is, is dit buite jou beheer.”

Sy sê voordat mense inhoud in digitale formaat skep, moet hulle hulself afvra of hulle dit op ’n advertensiebord sal plaas.

Die skermafdruk-opsie maak ook van gesprekke wat voorheen privaat sou wees, nou iets wat potensieel gepubliseer kan word, sê sy.

Elke mens in die publikasie-ketting van onwettige inhoud kan daarvoor verantwoordelik gehou word.

“Jy stuur vir my ’n rassistieste meme, ek stuur dit aan; ek is verantwoordelik vir daardie inhoud.”

Sadleir se raad aan “wettige sekskletsers” (ouer as 18):

* Maak seker jy kan nie in die foto geïdentifiseer word nie: Jou gesig, tattoeëermerke of geboortemerke moenie saam met jou geslagsdele in die foto wees nie.

* Maak seker die persoon vir wie jy die inhoud stuur, wil dit ontvang.

* Maak seker jy stuur die inhoud na die regte mens en nie die verkeerde WhatsApp-groep nie.

* Jy moet die persoon ken aan wie jy die inhoud stuur, en nie net deur die internet nie. Daar is ’n sindikaat in Suid-Afrika wat mense met die seksuele inhoud afpers, sê Sadlier.

Sadleir sê as iemand homself van inhoud kan distansieer, maar dit nie doen nie, is hy deel van die publikasieketting. Mense wat inhoud deel om iets uit te wys waarmee hulle nie saamstem nie, moet egter seker maak hulle dui dit so aan, sê sy.

Jy kan ook byvoorbeeld verantwoordelik gehou word vir lasterlike aanmerkings op jou Facebook-blad as jy dit nie verwyder nie.

Sy sê ook kinders moet weet: “As iemand sê hulle wil nie hul foto geneem hê nie, moet dit nie neem nie.” Hulle moet ook onthou elke foto wat van hulle geneem word, kan op sosiale media beland.

Sadleir meen kinders kry op ’n te vroeë ouderdom toegang tot slimfone. Sy sê uit ervaring sou sy slimfone vir kinders jonger as 13 verbied.

Meer oor:  Kinderpornografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.