Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kinders 'nie met geruste hart' by dagsorg gelos

“Die plek is nie ’n dagsorg waar ouers hul kinders met ’n geruste hart kan los nie.”

Dit is die woorde van een van die besorgde ouers wat vroeg Maandagoggend saam met lede van die Bikers Against Bullies aan ’n protesrit na die Myne Maatjies-dagsorgsentrum in Randfontein aan die Wes-Rand deelgeneem het om hul misnoeë met dié omstrede dagsorgsentrum in Van der Stel-straat te kenne te gee.

“Niemand kan hul frustrasies op kinders uithaal nie,” sê dié pa.

Die protesrit volg op ’n video wat verlede week op Facebook versprei is wat wys hoe kinders oënskynlik in die dagsorgsentrum geklap, verjaag en rondgestamp word.

Die hek aan die voorkant van die Myne Maatjies-dagsorgsentrum, wat deur iemand gebreek is, is intussen vervang. Foto: Werner Beukes

Volgens Bees Fourie, organiseerder van die protesrit, het sowat 80 mense daaraan deelgeneem. “Ek is onmiddellik ontsteld as ek hoor dat kinders te na gekom word – maak nie saak waar dit gebeur nie,” sê Fourie.

“Ek glo eenvoudig nie daaraan dat ’n mens aan kinders of diere – of enigiemand moet slaan nie.”

Fourie het Maandag versoekskrifte aan die polisie en die departement van maatskaplike ontwikkeling oorhandig waarin daar versoek word dat die Myne Maatjies-dagsorgsentrum ondersoek word.

“Daarin meld ek dat indien daar enige bewyse van mishandeling teen kinders gevind word, die plek sy deure moet sluit,” sê Fourie.

Die eienaar en twee personeellede is verlede Donderdag in verband met drie klagte van aanranding wat deur ouers aanhangig gemaak is, deur die polisie vir ondervraging ingeneem, maar later vrygelaat.

Die polisie het ook op ’n hardeskyf beslag gelê om die beeldmateriaal van kameras by die dagsorgsentrum te bestudeer. Ouers het hul kinders Donderdag by die dagsorgsentrum gaan haal nadat die video vinnig en wyd op sosiale media versprei is.

Die hek aan die voorkant van die dagsorgsentrum, wat deur iemand gebreek is, is intussen vervang, maar daar was Maandag geen teken van lewe by die huis nie.

Die eienaar van Myne Maatjies het Vrydag in ’n video op Facebook ouers om verskoning gevra en gesê dat die kinders by die dagsorgsentrum eerste kom.

Meer as 6 800 mense het teen Maandagmiddag ’n aanlyn petisie, wat die naweek begin is, onderteken om te eis dat die dagsorgsentrum se deure gesluit moet word.

Netwerk24 het Maandag weer die eienaar vir kommentaar probeer kontak, maar sy het nie op enige boodskappe reageer nie.

Amptenare van die departemente van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, wat Maandag ná afloop van die protesrit by die dagsorgsentrum opgedaag het as deel van hul ondersoek, het voor dooiemansdeur te staan gekom. Hulle wou nie met Netwerk24 oor die ondersoek praat nie.

’n Optog teen die dagsorgsentrum word ook vir komende Saterdag in Randfontein beplan.

Meer oor:  Randfontein  |  Dagsorgsentrum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.