Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kitskos en kerse mense se uitkoms in Springs
Tiaan en Bianca Broodryk met hul seuntjie, Amru (ses weke oud), buite hul huis in Dal Fouché. Hulle moet hul elektriese hek soggens en saans oop en toe stoot. Foto: Werner Beukes

Inwoners van Springs sê hulle gaan hulle nie deur die jongste kragkrisis laat onderkry nie. Hulle span “kitskos en kerse” in om te oorleef sedert Sondag se brand by ’n substasie wat groot dele van dié Oos-Randse dorp sonder elektrisiteit gelaat het.

“Ons gebruik ’n piepklein paraffienstofie om kos te maak en kom darem so half en half oor die weg,” sê Memory Honye (34), ’n inwoner van Pollak Park, een van die woonbuurte in Springs wat sonder krag is. Haar vriendin, Hazel Dowororwa (34), het Maandag al voorgestel dat hulle vleis en ander bederfbare produkte in die yskas van ’n familielid in Benoni gaan hou.

“Daar is baie bespiegelinge oor wanneer daar weer krag gaan wees. Ek woon al sedert 2014 in dié buurt en moes nog nooit so lank sonder elektrisiteit klaarkom nie. Ek hoop dit word binnekort herstel,” sê Honye.

Vir die 26-jarige Michael Janse van Rensburg van Dal Fouché is dit ’n groot frustrasie om elke dag die elektriese hek by sy huis oop en toe te stoot.

Die brandskade is duidelik sigbaar aan die New Era-substasie in Springs. Foto: Felix Dlangamandla

“Ek glimlag as ek na my bure kyk en sien hoe hulle ook by hul hekke so onderlangs ’n rits vloekwoorde los wanneer hul werk toe gaan of huis toe kom. Ons is almal saam in hierdie ding.

“Ek dink die groot fout lê by die Ekurhuleni-metro wat nie gereeld instandhouding by sy substasies doen nie. Die brand by die substasie in New Era is ’n direkte gevolg van ’n gebrek aan instandhouding. Niemand sal my anders oortuig nie,” sê Janse van Rensburg.

“Kitskos en kerse het die afgelope paar dae vir ons ’n uitkoms gebied, maar hoe lank gaan dit aanhou?” vra Tiaan Broodryk (31), ’n inwoner van Dal Fouché.

“Soos die noodlot dit ook wil hê, het my kragopwekker opgepak – juis nou wanneer ons dit die nodigste het,” sê Broodryk, wat sedert 2014 saam met sy vrou, Bianca (28), in die buurt woon.

Die brandskade is duidelik sigbaar aan die New Era-substasie in Springs. Foto: Felix Dlangamandla
Die brandskade is duidelik sigbaar aan die New Era-substasie in Springs wat dele van die Oos-Randse dorp in donkerte gedompel het. Foto: Felix Dlangamandla
Ons gebruik ’n piepklein paraffienstofie om kos te maak en kom darem so half en half oor die weg,” sê Memory Honye (links) en Hazel Dowororwa, inwoners van Pollak Park. Foto: Werner Beukes

“Ons het ’n seuntjie van ses weke oud. Gelukkig neem Bianca hom deur die dag na haar ma, wat nie deur die kragonderbreking geraak word nie. Ek hoop daar is lig aan die einde van die donker tonnel,” sê Broodryk.

Mike du Toit, president van die Oos-Gautengse Sakekamer vir Handel en Nywerheid, sê sedert Sondag se brand, wat skade aangerig het aan die substasie op die hoek van Paul Kruger- en South Main Reef-weg, is die kragtoevoer na al die gebiede in Springs behalwe die woonbuurte rondom die New Era-nywerheidsgebied herstel.

“Inwoners en lede van die sakekamer het Dinsdagaand met die metro se elektrisiteitsafdeling vergader en hulle het die versekering gegee dat die krag teen einde vandeesweek herstel sal wees. Nuwe toerusting is by die substasie in New Era afgelaai en die metro werk onverpoos om herstelwerk te voltooi.

“Een van die nyweraars het toe gesê dat hy sy deure sal moet sluit as die kragkrisis sou voortgaan. Ek hoop vir sy en die dorp se onthalwe dat dit nie gebeur nie,” sê Du Toit.

Themba Radebe, woordvoerder van die metro, het nie op enige navrae oor die kragkrisis gereageer nie.

Meer oor:  Springs  |  Kitskos  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.