Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kiwi kan Bokke brei
Maar Saru se geldtekort en politiekery kan Allister dalk red
Allister Coetzee: Verdoemende getuienis.
Dave Rennie, oudafrigter van die Chiefs.
Mark Alexander, Saru-president.

’n Topafrigter van Nieu-Seeland se naam is reeds in die hoed om Allister Coetzee as die Springbok-afrigter te vervang.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ­(Saru) se hopelose finansiële posisie en ’n vrees vir vergelding as hy teen die wil van die ANC sou optree, is egter wat Coetzee vir eers in sy pos as Springbok-afrigter hou.

Coetzee se posisie is egter nie verskans nie.

Agter die skerms is moontlike plaasvervangers al geïdentifiseer, onder wie Dave Rennie, die suksesvolle oudafrigter van die Nieu-Seelandse Superspan die Chiefs.

Coetzee sal ná 13 Desember weet of hy die trekpas kry ná die Springbokke se sukkeljaar onder sy breierskap.

Sy prestasiebeoordeling word dan deur ’n subkomitee van Saru gedoen.

’n Geldtekort en politiekery kan Coetzee se bas red.

Saru se geldelike verknorsing kan volgens ingeligtes hom noodsaak om sy uitsaaivennoot, SuperSport, te nader om geldelike bystand om Coetzee uit sy kontrak van nog drie jaar te kan koop. Die bedrag is volgens Rapport se bronne nagenoeg R13 miljoen.

Saru het nie dié geld nie.

’n Astronomiese verlies van R148 mil­joen in 2017 is Saru se voorland as hy nie gou borge aan boord kry nie.

SuperSport voel ook die knyp van kwynende rugbykykers. Ingeligtes sê SuperSport se eie kommerwekkende posisie met die verlies aan kykers as gevolg van die Springbokke se swak prestasie en die algehele agteruitgang van rugbykykgenot, kan hom dwing om Saru uit te help sodat die rugby­base Coetzee ’n goue handdruk kan gee.

Clinton van den Berg, SuperSport se woordvoerder, het by navraag gesê dit is onwaar dat SuperSport Saru ­geldelik sal help om van Coetzee ontslae te raak.

“SuperSport het soos alle Suid-Afrikaners die begeerte dat die Springbokke suksesvol moet wees, maar ons is ook baie bewus van die veranderlikes in sport. Ons praat van tyd tot tyd met ons vennote, maar meng nie in by besluitneming nie,” sê hy.

Informele gesprekke is glo deur topbeamptes en belanghebbendes kort ná die Bokke se verloortoets teen Wallis gehou met die oog daarop om moontlike plaasvervangers vir Coetzee te identifiseer.

Rennie het glo steun op die hoogste vlak in Saru. Daar is aandrang dat ’n Nieu-Seelander die proses van verandering en vernuwing op toetsvlak moet lei omdat afrigters van dié land die kuns van hoëtempo-rugby verstaan. In sy tyd as hoofafrigter van die Chiefs het dié Nieu-Seelandse Superspan in 2012 die Superrugby-reeks vir die eerste keer gewen en die titel ook die volgende jaar behou.

In 2012 het Rennie ook die prestasie behaal dat die Chiefs die meeste punte en drieë nóg in die Superreeks behaal het.

Rennie het ook Nieu-Seeland se o.20-span vir drie agtereenvolgende wêreldkampioenskapstitels van 2008 tot 2010 afgerig.

Die Chiefs-breier het hom egter pas as hoofafrigter by die Skotse klubspan Glasgow Warriors vir die 2017-’18-seisoen aangesluit. Die vraag is ook of Saru hom kan bekostig.

Rassie Erasmus is nog ’n naam wat glo in die hoed is.

Erasmus is egter ook nuut in sy kontrak by die Ierse klub Munster nadat hy in die middel van die jaar ná ’n uitval met Saru uit hul diens getree het. Nes Rennie word hy nou in ponde vergoed en is sy bekostigbaarheid ’n kwessie. Hy was voor sy vertrek Ierland toe ’n gunsteling om Bok-afrigter te word, maar Coetzee het toe die pos gekry.

Die ander moontlikheid is die voormalige Bok-breier Jake White. White het die Bokke in 2007 afgerig toe Suid-Afrika die Wêreldbeker vir ’n tweede keer gewen het. Hy is die Franse klubspan Montpellier se afrigter, maar Montpellier se skatryk eienaar, Mohed Altrad, het ná ’n uitval met White reeds die gewese Bokbreier van sy kontrak vrygestel en ’n nuwe afrigter aangestel.

Steun vir White is egter min.

Hoewel Saru vir eers laer getrek het om Coetzee ondanks die Bokke se mistroostige toetsjaar met ’n wenrekord van net 33%, is daar hoog op in Saru bestuurslede wat glo Coetzee moet vervang word

  • Maar met ANC-parlementslede in die portefeuljekomitee vir sport wat Alexander die afgelope week aangesê het om Coetzee nie af te dank nie, is daar egter ook groot sensitiwiteit dat so ’n drastiese stap nóg groter politieke druk op Saru sal plaas. Dit is glo óók op die skaal wanneer Coetzee oor net meer as ’n week geweeg word. Lees ook Rapport sê.
Meer oor:  Mark Alexander  |  Dave Rennie  |  Allister Coetzee  |  Breier  |  Springbok-Afrigter  |  Springbokrugby  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.