Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KKNK: Hulle soek net (rooster)-koek
Terwyl baie mense verskeie vulsels in hul roosterkoeke verkies, eet hierdie feesganger dit net so sonder vulsel. Foto: Simon Sonnekus

Roosterkoek “trend” behoorlik as feeskos op die eerste dag van die 23ste jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn.

Talle feesgangers stap koek-in-die-hand en die Toekomsrus United Congregational Church se stalletjie-bemanning het al op die eerste dag 150 kg se meel gebruik om die vraag na dié tradisionele lekkerny die hoof te bied.

Joany Paige, stalletjiebestuurder, het Saterdag op haar pos

voor die CP Nel-musuem in Baron van Reedestraat vertel: “Daar is heeltyd ’n ry mense wat soek na ’n roosterkoek.”

Die kunstefees duur tot Saterdag 15 April op Oudtshoorn en stalletjie-eienaars soos Paige sal met altesame 450 ander stalletjie-eienaars meeding om aandag – hoewel daar darem net sowat 72 kosstalletjies gelys is op die feeswebwerf se stalletjiegids

Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, het vroeër aan Oudtshoorn Courtant vertel wat 2017 se saamtrek spesiaal maak: “Ons vereer vanjaar vir Pieter-Dirk Uys met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys vir sy enorme bydrae as skrywer, satirikus, sosiale aktivis en humanis en ons is opgewonde om die jong teatermaker, Jason Jacobs wat as skrywer, regisseur en akteur ’n dinamiese en belangrike nuwe stem tot die Suid-Afrikaanse teaterbedryf voeg, met die Kunste Onbeperk Nuwe Stem-prys te vereer”, het Snyman aan dié plaaslike koerant gesê.

Die temperatuur sal volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens vir die duur van die fees tussen die laat 20’s en vroeë 30’s talm, met enkele donderbuie wat vir Saterdag, Sondag en Woensdag voorspel word.

Rachel Eznaie toor met die roosterkoeke buite die CP Nel-museum in Baron van Reedestraat in Oudsthoorn op die eerste dag van die jaarlikse KKNK.Foto: Simon Sonnekus

Maar daar was Saterdag min tyd vir weer-stories by die gewilde roosterkoekkombuis in die hoofstraat: Dié stalletjie wat vier braaiers gebruik om deur die loop van die dag roosterkoeke te bak, bly gewoonlik tot 21:00 saans oop. ’n Vuurmaker hou deurgaans kole aan die gang wat hy kort-kort met ’n graaf in ’n braaier gooi.

“Ná die laaste optrede op die RSG-verhoog bly ons nog so uur of só oop voordat ons oppak. Die volgende oggend, begin ons weer deeg maak vir die dag,” sê Paige.

Die stalletjie het ten alle tye twee personeellede by ’n braaier wat die roosterkoeke met hul hande draai.

Volgens Rachel Eznaie (63), wat een van die roosterkoekbraaiers is, is daar nie ’n tang wat behoorlik die roosterkoek kan knyp en maklik draai nie: “Ons draai die koeke as hulle rys en dan weer as hulle lekker bruin begin word. Die roosterkoeke is gewoonlik warm en ons brand af en toe ons vingers, maar ’n mens raak vinnig gewoond daaraan,” sê Eznaie.

Volgens Paige is die gewildste roosterkoek op die spyskaart die een wat gevul is met kaas, konfyt, botter en wors. “Ons verkoop wel ook roosterkoeke met allerhande ander lekker vulsels,” sê sy.

Nuttig: Kliek hier vir die feesprogram. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.