Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klagte oor rompslomp by Sassa-kantoor

In reaksie op klagte in Bloemfontein oor ’n gebrek aan dringendheid by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) om pensioentrekkers te help en ’n ordentlike diens te lewer hou die agentskap vol dat hy sy bes doen om almal wat nuwe Sassa-kaarte wil bekom betyds te help.

’n 71-jarige inwoner van Fichardtpark, wat uit vrees vir diskriminasie anoniem wil bly, stem egter nie saam nie en sê dat pensioentrekkers oor en oor onverrigter sake weggestuur word en weer en weer moet terugkom.

Hy was al vyf keer by Sassa se kantoor in Bainsvlei. Dinsdag moet hy ’n sesde keer teruggaan omdat dié kantoor net op Dinsdae oop is.

“Die mense staan in toue in die straat. Die geboutjie is te klein. In die wagkamer druk hulle 20 pensioentrekkers in. Jy sit letterlik op die volgende ou se skoot.

“Sommige pensioentrekkers is te groot om op een stoel te pas en hang oor na ’n volgende. Ek verstaan ma’s moet kan borsvoed wanneer hulle ure in rye sit, maar dis ’n verleentheid vir pensioentrekkers.”

Volgens hom sit en eet die personeel vis en skyfies terwyl hulle jou help.

Ek voel baie jammer vir die siekes en babatjies wat ook na die rye gebring word. Die ma’s staan vroeg soggens buite die geboutjie by konka-vure.

“Hulle stuur jou terug om beëdigde verklarings te maak oor ’n bedrag van R500 wat jou kinders vir jou in jou bankrekening inbetaal het. As jy die volgende week daar aankom, word jy weer oor iets anders huis toe gestuur.”

Daar is volgens hom geen dringendheid om jou ordentlik te help nie.

“In een geval is ’n verlamde man telkens teruggestuur om ’n ander dokument te kry, totdat sy mediese sertifikaat verval het.

“Hy kan nou eers die nuwe sertifikaat teen die einde van September by die Pelonomi-hospitaal kry. Dan moet hy wéér na die ry in Bainsvlei terugkeer.”

Die man sê by die kantoor in Bainsvlei staan 200 mense reeds teen 08:00 in die ry.

Sandy Godlwana. Foto: Facebook

“Ek voel baie jammer vir die siekes en babatjies wat ook na die rye gebring word. Die ma’s staan vroeg soggens buite die geboutjie by konka-vure.”

Sandy Godlwana, senior bestuurder: kommunikasie en bemarking van Sassa, sê hulle onderhandel met die Mangaung-metro om ’n groter lokaal in Bainsvlei te bekom sodat aansoekers nie buite in lang rye vir die nuwe Sassa-kaarte hoef te staan nie.

Volgens haar was die Bainsvlei-kantoor eintlik net bedoel vir die inwoners van Bainsvlei, maar nou gaan ander inwoners ook daarheen.

Godlwana sê Sassa stuur ook Donderdag nog ondersoekers na die Batho-saal in Batho, waar probleme vroeër vandeesweek met die stelsel voorgekom het. “Ons hoor die stelsel is nou weer in bedryf. Die saal is groot en daar is sitplekke binne. Ons het ook heeltyds tegnici aan diens om die stelsel te herstel.”

In die hoofkantoor in die Justicia-gebou in Bloemfontein gaan dit glo reeds heelwat beter sedert sommige van die aansoekers gevra is om na die Batho-saal te gaan.

Die dienste in die Batho-saal is van Maandae tot Vrydae van 07:30 tot 16:00 beskikbaar. Vorms kan hier ingedien word, aansoeke vir pensioene kan gehanteer word, en diegene wat verkies dat hul pensioen by hul eie bankrekening inbetaal word, kan dit ook reël.

“Ons het ’n omgee-regering en doen ons bes om alles so gerieflik moontlik vir pensioentrekkers te maak. Die lengte van die toue mense word ook nou gereeld by die hoofkantoor in die Justicia-gebou gemonitor,” sê Godlwana.

Meer oor:  Sassa  |  Bainsvlei  |  Klagte  |  Ondersoek  |  Pensioentrekkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.