Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klapjuffrou ‘oorstelp’ ná klag teruggetrek is

Die Afrikaanse juffrou wat vroeër vanjaar ’n gr. 9-leerling geklap het, wil nou asem skep en met haar lewe aangaan.

Só sê William Booth, regsverteenwoordiger van Clarissa Venter (34), wat meen sy kliënt was emosioneel oorstelp toe ’n saak van aanranding Vrydagmiddag in die landdroshof in Wynberg teen haar teruggetrek is.

Venter is voor die hof gedaag nadat sy vroeër vanjaar ’n leerling van die Sans Souci Girls’ High School in Kaapstad geklap het.

’n Video van die voorval, waartydens die kind die onderwyseres met ’n lessenaar stamp en sy dan die kind deur die gesig klap, het blitsvinnig op sosiale media versprei.

Clarissa Venter en haar prokureur, William Booth Foto: Jaco Marais

Booth het Saterdag gesê wat hom betref, is die saak teen Venter finaal afgehandel.

“Dit is nie soos ’n moordsaak waar nuwe bewyse of getuienis na vore gaan kom nie. Die saak (teen Venter) is juis op meriete teruggetrek en ek kan nie sien dat enige nuwe bewyse na vore sal kom nie.”

Hy sê in die hofproses het hy deurgaans vertoë aan die senior aanklaers gerig om die saak teen Venter te laat vaar. “Die aanklaers het dus na die bewyse gekyk, asook die persoonlike omstandighede. Op die meriete – die bewyse van die aanklagte – het die hoofaanklaer besluit om op hierdie punt (die saak) te onttrek.”

Die onderwyseres Clarissa Venter. Foto: Jaco Marais

Venter het nie Saterdag op navrae gereageer nie, maar Booth sê sy is “ontsettend verlig”.

“Sy is ’n onderwyseres, iemand wat nie gewoond is aan die kollig nie. Dit was ’n uiters moeilike tydperk vir haar.”

Hoewel Venter reeds ook ’n dissiplinêre verhoor deurgemaak het en weer terug in die klaskamer is, hang daar steeds ’n wolk oor haar nadat die betrokke leerling se ma voorheen ’n eis by die gelykheidshof in Wynberg ingedien het. Dit kom omdat die leerling se ma glo beweer die voorval het gebeur weens rassisme. Die leerling eis R150 000.

Die saak is nog nie op ’n hofrol geplaas nie, aangesien die landdros nog moet beslis oor die gelykheidshof se jurisdiksie in dié geval, volgens Booth.

“Dit is bloot toevallig dat die betrokke partye van velkleur verskil, maar die voorval het absoluut niks met rassisme te doen nie.

“Na my mening moes die saak nooit eens in die hof gedraai het nie. Die betrokke partye moes reg aan die begin om ’n tafel gesit en die saak uitgepraat het.”

Oproepe na die leerling se ma het Saterdagoggend onbeantwoord gebly.

Intussen het Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), ook hul dankbaarheid uitgespreek dat die strafregtelike saak teen Venter teruggetrek is.

Volgens Klopper is Venter ’n lid van die vakbond en hulle het haar van dag een af deur middel van Booth verteenwoordig.

“Ons het besluit om die saak uit te kontrakteer (Booth aan te stel), want ons het geweet die saak gaan deurlopend wees en verskeie forums hê,” het Klopper gesê.

Die SAOU het tot nou toe ál Venter se regskoste gedra en beoog om daarmee vol te hou totdat al die sake afgehandel is.

Klopper sê hoewel die dissiplinêre verhoor en strafregtelike klagte afgehandel is, lê die verhoor van die  Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) en die saak in die gelykheidshof nog voor.

“Ons gaan steeds by haar staan. Dis waarom lede by ons aansluit. Daar is ook geen twyfel nie dat Booth goeie werk gelewer het.”

Hy het bygevoeg dit is jammer dat die saak tot op dié punt gegaan het en meen die menslike faktor in die saak moet nie uit die oog verloor word nie.

“Die lank en kort is daar was ernstige provokasie. Die saak moet met empatie en begrip bekyk word en nie meer van gemaak word as wat dit is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.