Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klapmuts-weduwee wonder steeds of dit nagmerrie was

Elke dag is vir haar ’n dag van genade.

Soms skrik sy wakker en wonder of dit nie net ’n nagmerrie was nie, sê Marlene Conradie, weduwee van Joubert Conradie, eienaar van die plaas Uitkyk buite Klapmuts, Dinsdag.

Dit sal Woensdag ’n jaar wees sedert Conradie in die vroeë oggendure van Dinsdag 24 Oktober deur onbekende mans in hul plaashuis vermoor is.

Joubert Conradie

“Die afgelope jaar was baie moeilik vir my en die kinders, Hannes en Jana. Daar was tye dat ek nie geweet het wat ek doen nie, maar ek moes aangaan, vir my kinders se onthalwe.”

Dit was ook vandeesweek die geval.

“Hannes moes Woensdag wiskunde-assessering skryf, maar sy skool het dit na vandag geskuif sodat hy nie op die dag waarop sy pa gesterf het hoef te skryf nie.”

Marlene sê dat verskeie lede van haar man se familie die afgelope paar dae by hulle was.

“Ons het almal mekaar in hierdie tyd nodig. Vanaand (Dinsdagaand) kom my niggie na my toe en sy gaan ook hier by my slaap.”

Sy sê dat sy en haar kinders Woensdag rose op ’n grafsteen gaan sit wat sy in hul tuin vir Conradie laat oprig het. Conradie se grafsteen is langs die grafsteen wat hy vir sy ouers in hul tuin opgerig het.

“Jana het vir my gesê ek moet die grootste bos rose koop wat ek kan kry. Sy wil dit op haar pappa se grafsteen sit.”

Die rose wat Joubert Conradie se familie die naweek op sy grafsteen in die plaashuis se tuin gesit het.

By die plaas se naambord staan die houtkruis nog wat in die dae ná Joubert se dood by die plaasingang opgerig is.

Die wingerde langs die paadjie wat na die plaasopstal lei, is lowergroen. Die erf om die plaashuis en store is stil. Net die honde, die plaasvoorman en werkers is buite te sien.

Die huis self lyk nou soos ’n fort soos dit ná die aanval beveilig is. Daar is diefwering voor elke deur en venster wat kan oopmaak of wat oopgebreek kan word. Daar is ook ’n alarmstelsel wat aan ’n veiligheidsmaatskappy verbind is.

“Gelukkig woon die plaasbestuurder ook hier op die plaas.”

Niemand is nog vir die moord op Conradie aangekeer nie. Marlene sê sy weet ook nie hoe die ondersoek vorder nie.

“Eendag moet die mense wat my man vermoor het, voor God verantwoording doen.”

Meer oor:  Joubert Conradie  |  Marlene Conradie  |  Klapmuts  |  Plaasaanval  |  Weduwee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.