Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klarissa (19) steeds nie gevind; soektog duur voort
Klarissa Joubert (19) word sedert Donderdag vermis.

Teen Sondag laatmiddag is Klarissa Joubert (19), wat in die Oranjerivier vermis geraak het, nog nie gevind nie.

Maar die soekspanne het nog nie moed opgegee nie.

Intussen het ou skool- en koshuismaats van Klarissa Sondag in Ermelo bymekaargekom om ’n biduur vir hul vriendin te hou.

Klarissa, ’n tweedejaarstudent in sielkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, en haar gesin woon nou ongeveer vier maande in Orania nadat hulle van Ermelo na die Noord-Kaap verhuis het.

Soekspanne waak met soekligte oor die Oranjerivier in die hoop dat hulle Klarissa Joubert sal vind. Foto’s: Orania-beweging
Soekspanne skyn met soekligte van ’n brug oor die Oranjerivier in die hoop dat hulle Klarissa Joubert sal opspoor.

Verskeie hulpmiddels, soos rubberbote, helikopters, hommeltuie, ’n snuffelhond en ervare roeiers met kajakke word vir die soektog ingespan. Vrywilligers is ook in soekspanne opgedeel wat die oewers van die rivier fynkam.

Die polisie van Kimberley se soek-en-reddingspanne onder leiding van kapt. John Seeley is ontbied en soek sedert Donderdagaand, toe sy vermis geraak het, onverpoos na Klarissa.

Daar is ’n hulpfonds geskep sodat die soektog kan voortgaan. Joost Strydom, Orania-woordvoerder, sê die koste om die helikopters te laat vlieg beloop sowat R25 000 per uur.

Daarbenewens moet die rubberbote ook van brandstof voorsien word.

Hy sê groot bedrae geld vir brandstof is reeds deur vriende van die Joubert-gesin en boere en inwoners van Ermelo geskenk.

Strydom sê alhoewel die skenkings geweldig baie help, is dit steeds te min om die brandstofkoste te dek.

“Die Orania Helpmekaar-organisasie het daarom besluit om ’n hulpfonds op die been te bring om die nodige geld in te samel sodat die soektog na Klarissa kan voortgaan.”

Lede van die soekspan bestudeer 'n kaart van die omgewing langs die Oranjerivier.
Kapt. John Seeley (links met die duikpak aan), bevelvoerder van die polisie in Kimberley se soek-en-reddingspan, praat met 'n lid van een van die soekspanne wat na Klarissa Joubert soek.

Hy sê die met die skenkings “kan ons die helikopters in die lug en die motorbote op die water hou”.

Strydom sê hulle doen nou ook ’n beroep op vrywilligers in ander dorpe en gebiede verder af langs die Oranjerivier om ook te help om na Klarissa te soek.

“Dit sal ongelooflik baie help as inwoners van ander dorpe in hul gebied vir haar op die uitkyk kan wees.”

Klarissa se ouers, Johan en Leoni, is nog te geskok om met die media te praat. Hulle het wel gevra dat Strydom namens die familie hul dank oordra aan almal wat met die soektog help en geld geskenk het.

Joubert het Donderdag saam met ’n groep vriende op binnebande op die Oranjerivier baljaar toe sy van die band waarop sy en ’n vriendin gedryf het, afgeval het.

'n Motorboot soek op die Oranjerivier na die vermiste Klarissa Joubert.
Mense hou vanaf 'n brug oor die Oranjerivier dop om te kyk of hulle Klarissa Joubert kan sien.

Die voorval het kort voor 19:00 gebeur.

Die groep vriende het dadelik alarm gemaak en lede van Orania se veiligheidsdienste was vinnig op die toneel. Inwoners en boere uit die omgewing het ook dadelik na die meisie begin soek, en die polisie is ontbied.

Strydom sê die nooddienswerkers, soekspanne en vrywilligers soek onverpoos voort, al is hulle moeg en erg deur die son gebrand.

Drie helikopters is Saterdagoggend beskikbaar gestel om met die soektog te help.

Riaan Badenhorst, ’n boer van die omliggende omgewing, het sy helikopter vir die soektog beskikbaar gestel.

Soekspanne het mekaar om die beurt in ontsettend warm toestande langs die rivier afgelos.

Vroue en ’n plaaslike restaurant van Orania het koeldranke en ander verversings vir die soekspanne gebring.

Strydom sê dit is absoluut merkwaardig om te sien hoe gemeenskappe bymekaargekom het om na Klarissa te soek.

“Al heers daar ’n groot somberheid langs die rivier is die geesdrif en dringendheid onder die vrywilligers om Klarissa op te spoor ’n riem onder die hart.”

Meer oor:  Klarissa Joubert  |  Oranjerivier  |  Soektog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.