Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klarissa se lyk gekry nie ver van waar sy verdwyn het
Die polisie se soekspan was vroegoggend die rivier in.

Die lyk van Klarissa Joubert (19), wat Donderdag in die Oranjerivier vermis geraak het, is Maandagmiddag gevind nie ver van waar sy onder die water verdwyn het nie.

Soekspanne het sedert Donderdagaand onverpoos na Joubert gesoek nadat sy van die binneband afgeval het waarop sy en ’n vriendin gedryf het. Sy het saam met ’n groep vriende op binnebande op die Oranjerivier baljaar toe die voorval kort voor 19:00 gebeur.

Die groep vriende het dadelik alarm gemaak en lede van Orania se veiligheidsdienste was vinnig op die toneel. Inwoners en boere uit die omgewing het ook dadelik na die meisie begin soek en die polisie is ontbied. Die polisie van Kimberley se soek-en-reddingspanne, onder leiding van kapt. John Seeley, is ontbied en het sedert Donderdagaand onverpoos na Joubert gesoek.

Klarissa Joubert (19).

Klarissa, ’n tweedejaarstudent in sielkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, en haar gesin woon nou ongeveer vier maande in Orania nadat hulle van Ermelo na die Noord-Kaap verhuis het.

Volgens Joost Strydom, Orania-woordvoerder, is Joubert se lyk naby aan die plek opgespoor waar die fratsongeluk gebeur het.

Hy sê die Orania-veiligheidsdienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en amptelike dorpsverteenwoordigers is op die toneel om die reuse-operasie wat oor etlike dae gestrek het af te handel.

Tydens die soektog het Orania se amptelike veiligheidsgroep, OraniaMED24, die polisie, boere uit die omgewing en honderde vrywilligers dag en nag saamgewerk om Joubert te vind.

Die polisie se soekspan was vroegoggend al weer op die toneel.

“Die Orania-gemeenskap, die omliggende boere en amptelike strukture se samewerking is ’n duidelike bewys van die vermoë wat ontsluit kan word as ’n gemeenskap saamwerk na ’n gemeenskaplike doel, selfs in ’n baie traumatiese tyd. Gedurende die soektog is daar ’n wye ondersteunersnetwerk gevorm, wat alles van kos en brandstof tot gebede en ondersteuning ingesluit het.”

Strydom sê die familie het opregte dank aan die gemeenskap van Orania, die vrywilligers, hul vriende van Ermelo, die polisie en elke helper uitgespreek.

Die familie het ’n ernstige beroep op die media en ander persone gedoen om hul privaatheid te respekteer, hulle nie te bel nie en alle navrae deur die amptelike woordvoerder te doen.

“In hierdie moeilike tyd vind ons krag in ons gemeenskap en in ons Hemelse Vader deur Jesus Christus.”

Volgens ’n vrywilliger wat op een van die rubberbote na Joubert help soek het, was daar ses maalkolke op die plek waar sy onder die water verdwyn het.

“Die strome daar is geweldig sterk en het selfs die bote vasgetrek.”

Hy sê die soektog was emosioneel uitputtend en hoewel hy dankbaar is dat hulle haar gekry het, is dit steeds hartverskeurend.

Soekspanne was vroegoggend al op die toneel. Foto: Orania-beweging
Die vlak van die Oranjerivier het geweldig gestyg nadat die Vanderkloofdam water teen 512 kumek losgelaat het. Die toestande op die rivier was baie gevaarlik. Foto: Orania-beweging

Meer oor:  Orania  |  Klarissa Joubert  |  Oranjerivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.