Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klarissa se lyk ná 5 dae gevind: 'Dit het net nie sin gemaak nie'

Die lyk van die 19-jarige Klarissa Joubert is Maandag ná ’n vyf dae lange soektog in die Oranjerivier by Orania danksy ’n “onwaarskynlike” plan gevind.

Klarissa Joubert (19)

Klarissa het Donderdag onder die water verdwyn nadat sy en ’n groep vriende omstreeks 18:00 op binnebande op die rivier gevaar het om ná ’n snikhete Noord-Kaapse somersdag af te koel.

Die pretvaart het egter in ’n nagmerrie ontaard toe sy van die binneband, waarop sy en ’n vriendin was, geval het.

Haar vriende het haar verbete probeer red, maar hulle kon haar nie opspoor nie.

Hulle het dadelik hulp ontbied en ’n grootskaalse soektog is begin, wat Orania se veiligheidsdiens asook die inwoners en boere van die omgewing ingesluit het.

Die soek-en-reddingseenheid van Kimberley se polisie, onder leiding van kapt. John Seeley, het ook kort daarna opgedaag en deur die nag na haar gesoek.

Honderde vrywilligers, helikopters, snuffelhonde, hommeltuie en ervare roeiers in kajakke het vyf dae lank in die ongenaakbare Noord-Kaapse son gesoek.

Dit het net nie sin gemaak nie, maar die soekspan het daar begin rondkyk en haar binne sekondes gevind
Joost Strydom, Orania se woordvoerder

Hoewel uitgeput, was hulle nie bereid om handdoek in te gooi nie.

Volgens Joost Strydom, Orania se woordvoerder, wat ook aan die soektog deelgeneem het, was die soektog senutergend en uitputtend.

’n Groep vrywilligers wat in een van die bote aan die soektog deelgeneem het, het Klarissa se lyk vroeg Maandagmiddag in die riete teen ’n eiland in die rivier gevind.

Strydom het Dinsdag gesê Klarissa se lyk is uiteindelik gevind toe hulle die gebeure nadat Klarissa onder die water verdwyn het nageboots het met behulp van 'n boei wat aan 'n boksslaansak vasgemaak is. Dit het die groep na haar gelei.

Die boksslaansak wat met 'n gewig van 50 kg gevul is en waaraan 'n boei geheg is, het die soekspanne na Klarissa se lyk gelei. Foto: Orania-beweging

“Een van die veiligheidstrukture het met dié plan vorendag gekom om Klarissa se verdrinking na te boots.”

Die slaansak is met ’n droë gewig van ongeveer 50 kg gevul en by die plek in die water gelos waar sy ondergegaan het.

Enkele ure later het die sak teen ’n redelik spoed verby Sandbaai, van waar ’n operasionele sentrum vir die soektog opgerig was, in die stroom afgedryf.

“Daarna het ons nie weer die sak gesien nie. Ek moet bieg, ek het nie gedink die plan gaan werk nie. Daar was te veel veranderlikes, soos die snelheid van die stroom, dryfbaarheid, gewig en obstruksies op die bodem van die rivier. Maar ons het haar op die ou end presies langs hierdie boei gekry.”

Strydom sê die boei is eerste gesien en Klarissa se lyk was net enkele meter verder.

“Dit was ’n plan wat ons met ’n bietjie onsekerheid aangepak het, maar wat presies vir ons gewys het waar sy is.”

Die toneel Maandagmiddag kort nadat die lyk van Klarissa Joubert gevind is. Foto: Verskaf

Strydom sê dit het nie sin gemaak waar die boei uiteindelik gedryf het nie.

“Die boei is stroomaf van 'n eiland gevind. Dit is deur 'n opstroom teen die eiland vasgedruk. Dit het net nie sin gemaak nie, maar die soekspan het daar begin rondkyk en haar binne sekondes gevind.”

Hy sê hoewel dit ’n verligting is dat haar lyk gevind is, is dit ontsettend hartseer.

“Ten minste kan haar ouers nou afsluiting kry. Ons het hulle gister na die plek geneem waar sy gevind is en waar sy ondergegaan het. Dit bly maar net hartverskeurend.”

Kapt. John Seeley van die polisie in Kimberley se soek-en-reddingseenheid kyk Vrydag hoe sy span gaan ondersoek instel nadat hulle iets op die water sien beweeg het. Foto: Verskaf

Meer oor:  Joost Strydom  |  Oranjerivier  |  Orania  |  Klarissa Joubert  |  Soektog  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.