Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Klein meisie’ held wat haai terug in see kry
Dit het strandgangers by Cannon Rocks in die Oos-Kaap die afgelope Sondag meer as twee ure geneem om ’n gestrande walvishaai weer terug agter die branders te kry. Foto: FACEBOOK
Daar word gevrees dat die walvishaai moontlik weer kan uitspoel. Die publiek word gevra om op die uitkyk te wees, sou die walvishaai weer in die omgewing van Cannon Rocks uitspoel. Foto: FACEBOOK
Jon Goetsch, een van die eerste mense in die see om die gestrande walvishaai by Cannon Rocks te red, sê hy het Maandagoggend wakker geword met sy duvet wat aan sy lyf vasgekleef het. Goetsch sê sy hande, voete, bene en rug lyk asof dit met skuurpapier geskuur is. Hy vermoed dit is die skurfheid van die haai se vel wat die rou kneusplekke veroorsaak het. Foto: FACEBOOK

’n Haaivin, wat toe die vin van ’n walvishaai was, het strandgangers by Cannon Rocks in die Oos-Kaap vir ure besig gehou toe die walvishaai hier op die rotse uitgespoel het.

“Die vin kon seker vir ’n uur lank in die branders gesien word. Almal het vermoed dis ’n haai wat tussen die branders is, en toe die drie meter lange vis uitspoel, was dit ’n pragtige walvishaai,” het Jon Goetsch gesê.

Goetsch sê hy het die vin vanuit sy vakansiehuis in Cannon Rocks, sowat 135 km noord van Port Elizabeth aan die Ooskus, dopgehou en hy het hom dadelik af strand toe gehaas toe die vis op die rotse by Swemstrand uitspoel.

“Ek en my seun het onmiddellik probeer om die haai van die rotse af te kry, maar die branders het die situasie bemoeilik.”

Ná ’n geswoeg van sowat 45 minute met die haai, wat as die grootse visspesie in die see bekend is, het Goetsch die haai weer in die vlak branders gehad. “Na bykans ’n uur se gesukkel met die vis, wat ek skat sowat ’n ton weeg, was my kragte gedaan,” het Goetsch gesê.

Hy meen was dit nie vir ’n jong, onbekende meisie wat onophoudelik probeer het om die haai verby die branders te stoot nie, sou die haai sekerlik dood op die strand geëindig het.

“Niemand weet wie die meisie is nie, maar toe ons kragte op was, was dit die klein geboude meisie, seker nie ouer as 15 jaar nie, wat met klere en al teen die branders geveg het om die haai agter die branders te kry.

“Daai haai het die meisie met sy stert geslaan en rondgegooi, maar sy het nooit opgegee nie. Al was ons eerste by die haai, is sy die held van die dag, en niemand weet eers wie sy is nie.”

Die gestoei het sowat twee ure lank geduur voordat die haai agter die branders in die baai begin sirkel het.

“Nadat die haai in die baai gesirkel het, was daar ’n oomblik wat die haai onder die water weggeraak het en nie weer gesien is nie.”

Volgens Goetsch het beamptes van die Suid-Afrikaanse Mariene Rehabilitasie-en-Opvoedingsentrum (Samrec), ook Sondagmiddag by die strand opgedaag om te help kyk, sou die haai weer uitspoel.

“Ons het nog tot na sonsondergang langs die strand geloop om te kyk of die haai nie moontlik iewers uitgespoel het nie.”

Enige persoon wat die haai langs die strand sien, kan Samrec bel by 084 587 8346.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.