Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kleinmond: Ma gebroke ná dogter en 2 maats doodgery is

“Ek weet nie hoe ek oor die dood van my kind gaan kom nie,” sê ’n gebroke ma van Kleinmond nadat haar dogter die naweek in dié kusdorp saam met twee van haar maats doodgery is.

Jenoline Gouws wat Saterdag saam met twee maats in Kleinmond doodgery is. Foto: Facebook/Jenoline Gouws

Jeanette Gouws het Maandag gesê haar 14-jarige dogter Jenoline en haar maats het Saterdag op die strand deurgebring en was op pad huis toe toe ’n kar teen ’n hoë spoed in hulle vasgejaag het.

Jenoline, ’n leerling aan Hawston Secondary School, en twee maats het Saterdagaand saam langs die hoofstraat gestap toe ’n VW Golf hulle getref het.

Volgens die verkeersowerhede het die Golf se bestuurder beheer oor sy voertuig verloor en die kinders getref en toe teen ’n stilstaande motor gebots.

Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, sê die Golf het glo baie vinnig uit die rigting van Hermanus aangery gekom. Albei insittendes van die Golf is in die botsing uit die voertuig geslinger en is later in die hospitaal dood.

Gouws het Maandag gesê dit gaan baie moeilik.

“Ek weet nie hoe ek oor alles gaan kom nie. Alles wat ons nou doen, gaan maar oor Jenoline.”

Sy sê haar dogter wou graag eendag ’n maatskaplike werker word. “Sy het altyd grappe gemaak en was maar altyd net in die huis.”

Sy het Maandag haar dogter se lyk gaan uitken.

“Sy lyk presies soos sy gelyk het. Dit is al wat ek wou hê. Ek wou haar net só onthou,” sê sy hartseer.

Vyf mense, onder wie drie kinders, het Saterdag in Kleinmond se hoofstraat gesterf toe hierdie wit Golf in hulle vasgejaag het. Dit het daarna teen ’n stilstaande motor gebots en op sy dak te land gekom. Albei die passasiers is later dood. Foto: Verskaf

Jenoline word Saterdag begrawe. Sy word ook oorleef deur haar pa, Piet, asook drie susters.

Jacques Oosthuizen, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het op hul Facebook-blad geskryf dat die ongeluk kort ná 20:00 gebeur het.

Oosthuizen het by navraag gesê die dorp rou ná die jong kinders se dood, asook oor ses ander mense wat ook die afgelope week in onverwante voorvalle dood is.

Die identiteit van Jenoline se twee maats asook die oorledenes wat in die Golf gery het, kon nie vasgestel word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.