
Gay en pro-gay lidmate en proponente is hier in ’n woordewisseling met ’n amptenaar (links) van die NG Kerk betrokke oor die T-hemde wat hulle dra.Foto: Pieter Steyn
Die kwessie van kleredrag in die “huisreëls” van die buitengewone algemene sinode in Pretoria het ter sprake gekom toe prof. Nelus Niemandt, vorige moderator van die kerk, beswaar gemaak het teen reëls dat afgevaardigdes en besoekers sekere klere nie mag dra nie.
“Ons is almal volwasse mense hier en kan tog nie geïntimideer word deur iemand se kleredrag nie. Ek dink die kerk is lankal verby die tyd dat ons aan mense kan voorskryf wat hulle mag dra en wat nie.”
In reaksie daarop het ds. Helgard Janse van Rensburg, streekmoderator van die Vrystaat, gesê die kerk is ’n geloofsfamilie en elke familie het reëls.
“Ek as hoof van my gesin lê bepaalde reëls neer en al kan ek dit nie altyd afdwing nie, verwag ek dat dit gerespekteer word.”
Janse van Rensburg het gesê daar is al jare lank ’n gebruik by kerklike vergaderings dat applous nie toegelaat word nie.
“Daarom moet die stille applous (kleredrag) ook nie toegelaat word nie.”
Hy het gesê die kleredrag van sommige afgevaardigdes en besoekers was vir van die ander afgevaardigdes by die vorige sinode in 2015 ’n probleem.
Ds. SW Scott van KwaZulu-Natal het beswaar gemaak teen die gebruik van “onkerklike terme”.
“Die taal wat ek hier hoor, is nie kerktaal nie. Daar word gepraat van regsadvies, ensovoorts. Dit maak my ongemaklik. Paulus het gesê moenie jou broer aanstoot gee nie.”
Die huisreëls, wat onder meer die bepaling oor kerkdrag, foto’s en verfilming bevat, is deur ’n oorgrote meerderheid goedgekeur.
Die gay en pro-gay proponente en lidmate wat vroeër met T-hemde by die sinode opgedaag het, het kort ná teetyd die sinode verlaat.
Netwerk24 het vroeër berig ingevolge die “huisreëls” van die sinode word “geen mense met kleredrag of plakkate of enigiets dergeliks wat standpunte oor eengeslagverhoudings verteenwoordig of propageer” in die vergadering toegelaat nie.
Besoekers wat die vergadering bywoon, word ook versoek om aan dié reëling gehoor te gee.
Die betrokke lidmate en proponente se T-hemde het gelui: “#liefde is liefde” en van hulle het dit ook verlede jaar by die algemene sinode gedra.
’n Amptenaar van die NG Kerk het hulle verbied om die vergadersaal binne te gaan, maar hulle het ná ’n kort woordewisseling hul plekke in die besoekersgalery ingeneem.
Van hulle het op eie koste van so ver as die Wes-Kaap en Vrystaat gekom om die buitengewone algemene sinode by te woon.