Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Klimmer (72) was bekende spesialis

Die bergklimmer wat Saterdag dood is in ’n bergklim-ongeluk by die Muizenberg-krans is geïdentifiseer as dr. Carl Fatti (72), ’n bekende spesialis wat jare lank by die Helderberg-hospitaal in Somerset-Wes gewerk het.

Hy het vier jaar gelede afgetree en was ’n kranige bergklimmer.

Dr. Carl Fatti
Dr. Carl Fatti Foto: Facebook/Carl Fatti

“Dit is altyd ’n hartseerdag wanneer ’n legende soos hy doodgaan,” skryf een persoon op Facebook. “Maar hy het gedoen wat hy liefgehad het, en hy sal nog generasies lank onthou word. My innige meegevoel aan die gesin.”

Vroeër is berig Fatti en twee vriende het glo die rots uitgeklim toe die ongeluk gebeur het. ’n Stuk rots het glo losgekom, wat tot die ongeluk gelei het. Dit is nie bekend of die rots hom getref of onder hom uitgegly het nie.

Altesaam 25 reddingspersoneel was betrokke by Fatti se reddingspoging. Stappers het teen die berg langs by hom uitgekom en hom na ’n meer geskikte plek geneem waar ’n helikopter hom opgepik het en tot by ’n ambulans vervoer het.

Fatti het baie ernstige beserings opgedoen en is dood kort nadat die reddingspoging klaar was.

Carl, Anna en Isabella Fatti op ’n uitstappie in die Krugerwildtuin in 2016. Foto: Fecebook/Carl Fatti

Fatti word deur sy vrou, Anna, en sy dogter, Isabella, oorleef. Isabella is ook ’n dokter wat in 2015 aan die Universiteit van Kaapstad gegradueer het. Sy is die derde generasie van die Fatti’s wat hulle as dokters bekwaam het.

“My innige simpatie aan Anna, Isabella en die hele Fatti-familie met die heengaan van Carl,” skryf een persoon op Facebook. “Hy gaan beslis gemis word. Almal van julle is in my gebede. Al my liefde.”

Fatti het aan die Universiteit van die Witwatersrand gestudeer en in Somerset-Wes gewoon.

“Hy was ’n bergklimlegende, en sal altyd ’n legende bly,” sê iemand anders. “Dit was ’n hartseerdag ná die verlies van ’n kollega. Ons innige meegevoel met die gesin. Baie dankie aan die reddingspanne vir hul hulp.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.